Skip to main content

Vlad hou sy kaarte toe

Rusland het Maandag spiere op sy Rooiplein gebult ter viering van sy oorwinning oor Nazi Duitsland in WOII. Ironies, want die wȇreld skeer sy leier se magsvergrype in Oekraȉne oor dieselfde kam as Hitler. Sonnette Lombaard berig.

Wyl Oekraïne met Westerse hulp al sterker teenstand teen die Russiese inval bied, het die Russe vandag tuis op die Rooiplein op ‘n simboliese viering uitgehaal en gewys. Sy president, Vladimir Putin, se afgewagte toespraak daartydens het platgeval deurdat min van verwagte aankondigings gekom het. Hy het wel die Weste blameer vir sy inval in Oekraïne omdat hy beweer hulle het, deur Nato, Rusland met ‘n kernaanval gedreig.

Kenners meen Putin se onvermoë om die oorlog in Oekraïne te beklink, is die rede vir sy bedeesdheid. Daar is verwag dat hy ‘n oorwinning in Oekraïne sou verklaar en/of die oorlog volskaal sou uitbrei. Rusland lei egter groot verliese sedert hy Oekraïne op 24 Februarie binnegeval het, en het na raming reeds 27 000 troepe verloor.

Inmiddels het die VSA en sy bondgenote sanksies teen Rusland verskerp en nog groot geldelike en militêre hulp aan pres. Vladymyr Zelensky van Oekraïne beloof.

Die jaarlikse Oorwinningsdagparade op Moskou se Rooiplein is ‘n gewilde, openbare vakansiedag in Rusland en een van die mees gekykte regstreekse uitsendings op Russiese televisie. Dit herdenk die Russe se sege oor Nazi Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog. Binne ‘n volk wat in ryk tradisies onderlê is en waarin oorwinning soms godsdienstige afmetings aanneem, is dit ‘n simboliese dag van saamsnoer en skouspelagtige spoggery. ‘n Kerndag vir die Russiese propagandamasjien om die volk te verenig. Dit is juis Putin wat sedert hy aan bewind gekom het, dié historiese herdenkingsdag opnuut gepoets het. In die onstuimige 1990s is dit te midde van openbare onrus met die Sowjet-Unie se opbreek stiller gevier. Putin span dit sedertdien in vir patriotiese nasiebou om die Russiese idenititeit te versterk en sȯ inkoop vir sy regime te verky en te behou.

Putin het in sy toespraak die Russe se sukses in die Tweede Wêreldoorlog met die in Oekraïne vergelyk en gesê Rusland sal weer as oorwinnaar uit die stryd tree. Putin wat beweer ‘n neo-Nazi regime beheer Oekraïne, het bygevoeg dat Nazisme uitgeroei moet word.

Ironies, want die mensdom sal Putin se wandade op dieselfde wyse beoordeel as Hitler se vergrype, meen politieke ontleder Piet Croucamp.

Hy sê hoewel Putin nog nie opgee in Oekraïne nie, sal die negatiewe gevolge van sy vergrype daar eers op die langer termyn ten volle uitspeel. Dit kom wyl die G7-lande – die magsblok van sewe sterk ekonomieë – nog sanksies teen Rusland ingestel het in ‘n poging om Putin hok te slaan. Die bykomende strafsanksies deur die G7  bestaande uit die VSA, Kanada, Frankryk, Duitsland, Italie, Brittanje en Japan met die EU en sy 27 ledelande as erelid, kom nȧ beskuldigings dat Westerse afhanklikheid van Russiese olie en gas indirek Putin se voortslepende oorlog in Oekraïne  befonds. Volgens die G7-leiers sal die Weste en sy bondgenote op ‘n “ordelike wyse” sorg dat die onafhanklikheid van Russiese olie en gas verminder word.

Volgens Croucamp is dit haalbaar maar sal die skep van die nodige infrakstruktuur hiervoor tyd neem. Hy wys daarop dat Donald Trump lankal gewaarsku het dat Putin die Duitsers in ‘n knyptang het oor hul afhanklikheid van Russiese gas en olie. “Dis ironies dat Duitsland as aggressor in die Tweede Wêreldoorlog nou afhanklik is van die Russe teen wie hy eens oorlog gevoer en verloor het.”

In die 77 jaar nȧ die wêreldoorlog het die wêreld egter baie verander en globalisme het sterk na vore getree. Die meeste lande het gekies om mekaar te vertrou en saam te werk vir verbeterde algemene belang. “Die strewe was na wedersyde afhanklikheid, maar magsbehepte malles soos Putin versteur dié prentjie.”

Nogtans kan Putin en sy land nie in isolasie funksioneer en oorleef nie, benadruk Croucamp. Hy is afhanklik van die Weste soos hulle van hom. Die vraag is hoe lank Putin kan uithou. “Die ekonomiese sanksies tref die Russiese volk reeds hard en sal uitkring. As Rusland nie sy buitelandse skuld kan betaal nie, sal Putin se probleme aansienlik verdiep.”

Sy halsstarrigheid en kortsigtigheid sal tot permanente skade lei want handelsverhoudinge maak staat op politieke bestendigheid, verduidelik Croucamp.

Hy meen Putin het twee strategiese foute begaan. Hy het gedink Rusland sou, soos met die inval in die Krim-skiereiland in 2014, daarmee wegkom en ook dat sy Weermag blitsig oor Oekraïne sou loop.

Voorts het hy ook nie daarmee rekening gehou nie dat die VSA en sy bongenote so verenig en sterk terug sou vuis bal nie. “Die afkoelperiode tussen die VSA en Europa nȧ Trump is duidelik verby. Amerika en die grooste deel van die wêreld veroordeel Putin se optrede eenparig en onvoorwaardelik.”

Putin se magslus jaag ook nog lande in die Nato-kraal. Die Skandinawiese lande Finland en Swede sal na verwagting binne die volgende twee weke by dié Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie aansluit. Iets wat Putin juis vrees.

“Soos soortgelyke leiers in China en Noord-Korea, is Putin primêr ‘n magspolitikus waarop hy sy strategie grond. Nogtans sal ekonomiese beginsels seëvier. Rusland kan nie die Oekraïne-oorlog wen nie en sal ekonomies ook aan die kortste ent trek,” verklaar Croucamp.

Die geskiedenis sal Putin beoordeel en veroordeel omdat  demokrasie onder hulle agteruit boer. “Hulle sal as vernietigers gebrandmerk word.”

Leave a Reply