Skip to main content

Die afgelope naweek kon in ‘n nagmerrie ontaard het, maar gelukkig was spoke verniet opgejaag wat ‘n Suid-Afrikaanse egpaar se staptog in Namibië se Visrivier Canyon betref.

‘n Reuse soektog was van stapel gestuur om die egpaar, Trevor Burger (63) en sy vrou, Samantha (50), op te spoor nadat hulle as vermis aangegee is.

Die uitvoerende direkteur van die Ministerie van Omgewing, Bosbou en Toerisme, Theo Nghitila, het bevestig dat die duo veilig is.

“Daar is geen noodgeval nie,” het Nghitila gesê. Volgens hom het die Burgers nie uitgeteken toe hulle die kloof verlaat het nie, en dìt is wat die herrie veroorsaak het.

Die Visrivier Canyon-staproete se asemrowende grootte en ruwe terrein lok gereeld besoekers vanaf regoor die wêreld. Dit is ook die mees besoekte toeriste-aantreklikheid in Namibië.

Dié gebied was in 2016 in die nuus toe die liggame van twee Duitse burgers, ‘n ma en dogter van onderskeidelik 48 en 29 jaar oud wat daar omgekom het, gevind is.

Leave a Reply