Skip to main content

Oubaas Prinsloo van Modderfontein in die Transvaalse Republiek was doodtevrede om net te boer. Sy pa was ‘n Voortrekker wat by Bloedrivier geveg het en in 1842 sy wa gelaai om onder Britse bewind uit Natal pad te gee. Hier op die Hoogland van Transvaal meet hy die plaas Modderfontein af en daar boer die Prinsloos in vrede met hulle troppie beeste en paar landerye mielies. Rykdom is daar nie, maar hulle het alles wat hulle nodig het. Die ou Trekker is nou al dood en sy naamgenoot besit die plaas – self al gevorderd in sy jare.

Van die verwikkelinge in Johannesburg en Pretoria weet hy min – vir die Engelse het ou Prinsloo nie ‘n goeie woord nie en die Uitlanders beskou hy as ‘n swerm sprinkane. Hier iewers in 1890 daag een met ‘n stywe boordjie en ‘n hardebolkeil op die plaas op. Hy wil prospekteer vir goud op Modderfontein en wil ou Prinsloo nie dalk verkoop nie? Daarvan wil die ou korrelkop niks weet nie, maar die tante hoor dat hy £11 500 aangebied word – ‘n fortuin vir so ‘n plasie en sy kerm totdat die ou kopgee, die geld vat en die wa laai.

Binne 6 weke word goud ontdek op Modderfontein en die uitgebreide woonbuurte aan die Gautengse Oos-Rand ontstaan rondom die Modderfonteinmyn.

Ou Prinsloo trek ooswaarts en koop die plaas Kaalfontein – so ver as wat hy kan kom van die Uitlanders en hulle gegrou in die grond nes molle. Die geldjies hou hy veilig en verder leef hulle eenvoudig soos altyd. Vir 3 jaar.

Toe kom daar so swierige Engelsman aangery – Michaelson. Ou Prinsloo ken hom, hy het mos jare lank die negosiewinkel op Laingsnek bedryf. En hy kom verneem of Kaalfontein nie te koop is nie. Hierdie keer skop ou Prinsloo vas. Hy trek wragtig nie weer nie, nie vir £100 000 nie! Maar Michaelson laat hom nie koudsit nie en toe ou Prinsloo hom kom kry sit hy met 100 000 goue ponde in sy wakis en Michaelson se manne delf tonnels die hele plaas vol. Dit word die winsgewende Kaalfontein Diamond Company wat later deel van De Beers sou word en baie kosbare diamante sou oplewer.

Hierdie keer trek ou Prinsloo so ver as wat hy kan kom. Hy wil in sy lewe nie weer ‘n prospekteerder sien nie. Hy gebruik sy ponde om ‘n hoë heining om sy nuwe plaas te span en bou sy huis so dat hy die hele plaas kan dophou. En daar sit hy dag na dag op die stoep met sy geweer. Wanneer daar prospekteerders opdaag, verjaag hy hulle met ‘n skoot lopers. Nie een sal weer in sy grondjie krap nie!

Tot die Wallieser, Tom Cullinan, een nag oor die heining klim en grondmonsters bymekaar maak. En vir die derde keer sit oubaas Prinsloo met ‘n aanbod op sy grond. “Nee,” sê ou Prinsloo. “Ek gee vir g’n niemand opsies om eers te krap in die grond nie. As jy die plaas wil hê koop jy hom op jou risiko. As jy môremiddag 12:00 by die bank in Pretoria is met £120 000 kan jy kaart en transport kry, voetstoots, en dan trek ek so ver weg dat ek julle nooit weer hoef te sien nie.”

Tom Cullinan laat hom nie twee keer nooi nie. Die £120 000 word betaal en hierdie keer trek oubaas Prinsloo eenmaal die berge oor tot agter in die Soutpansberg.

En minder as ‘n jaar later staan die Premiermyn waar sy derde opstal eers gestaan het en die beroemde Cullinan diamant word uitgehaal waar sy mielielandjie eers was.

Oubaas Prinsloo het hard baklei teen rykdom, maar dit het hom niks gehelp nie. Want min boere het teen 1898 £250 000, wat hy nie wou hê nie!,  in die bank gehad

Leave a Reply