Wêreldorde wankel wyer oor Vlad
Wyl die oorlog in Oekraïne voortwoed, is die toekoms van die “verenigde” en “lam” Verenigde Nasies én sy baas wat wêreldvrede moet bewaar, ook in gedrang, skryf Sonnette Lombaard.
Dit het die algehele verwoesting van twee wêreldoorloë gevat om die droom van ‘n verenigde, internasionale liggaam wat voortaan vrede tussen volke moes bewaar, te laat realiseer. Met die uitbreek van die Oekraïne-oorlog in Februarie is dié droom geskaad en noodsaak dit die mensdom se indringende herbesinning oor die rol van die Verenigde Nasies (VN) vorentoe.
Dis skuldklag word aan die Kremlin se deur gespyker met Russiese president Vladimir Putin wie se mag-skaakspel bestaande wêreldordes wyer laat wankel. Vraagtekens hang oor die voortbestaan van die VN soos dit tans lyk, oor dit lamgelê word deur Rusland se vetoreg as een van vyf magslande wat die permanente lede in die Veiligheidsraad vorm.
Die VN beleef sy grootste krisis in sy 77-jarige bestaan omdat hy in sy hoofdoel van wêreldvrede faal. Die huidige formaat van die internasionale liggaam is uitgelewer aan diktators soos Putin wat die VN lamlê met sy arrogante militantheid in Oos-Europa. Boonop sorg Rusland se aggressie in Oekraïne vinnig vir een van die grootste humanitêre krisisse nog . Na raming het meer as 11 miljoen mense in die eerste ses weke uit Oekraïne gevlug. Sirië se oorlog vanaf 2011 het 14 miljoen vlugtelinge uitgespoeg.
Die VN se aanvanklike “traagheid” om hande in Oekraïne vuil te maak, het daartoe gelei dat meer as 200 senior oudamptenare onlangs hul diepe kommer in ‘n opebrief aan die VN se huidige sekretaris-generaal, António Guterres, bely het. Dié Portugese politikus en diplomaat tans in sy tweede termyn, lei die VN sedert 2017.
Die oudamptenare, wat vise-sekretarisse insluit, pleit by Guterres om leiding te neem in die herstel van wêreldvrede óf die gevaar te loop dat die VN in nietigheid kan verdwyn. “Tree onmiddelik op,” is hulle reguit versoek. Hulle is gegrief oor Guterres se traagheid teen ‘n leierland in die Veiligheidsraad wat astrant die wêreldvrede bedreig. “Ons wil ‘n duidelike strategie sien met die aanwend van die VN se kundigheid op vele terreine. Soos besoeke aan die oorlogsones en gesprekke met opponerende partye.” Dít sal die beeld stu van ‘n doelgerigte VN wat die internasionale krisis tromop pak.
Hulle spreek ook hul kommer uit dat in die sigbare afwesigheid van die VN aanvanklik, akteurs bemiddelaar in Oekraïne moes speel. Guterres het hom daarna gehaas na die oorlogsone. Inmiddels het die VN ook van sy celeb-liefdadigheidwerkers uit Hollywood soos Angelina Jolie en Orlando Bloom opgekommandeer om die oorlogsones te besoek.
Oekraïne se president het laas maand via weblink uit Kiev die VN passievol toegespreek. In sy pleidooi vir nog hulp, het Volodymyr Zelensky die Veiligheidsraad versoek om Rusland daaruit te skors weens sy militêre vergrype in sy land. Volgens Zelensky het Rusland sy vetoreg in die Veiligheidsraad verander “in ‘n reg om dood te maak”. Oekraïne is ‘n stigterslid van die VN en was een van die eerste lande wat die VN-grondwet as die Oekraïniese Sowjet Sosialisitiese Republiek in 1945 onderteken het. Oekraïne het in 1991 van Rusland afgestig en ‘n onafhanklike republiek gevorm. Sedertdien probeer Rusland om dele terug te wen. In 2014 het hy die Krim-skiereiland geannekseer.
Die VN se dilemma sny dieper as oppervlakkige vertoon, bevestig prof. Hennie Strydom, hoof van die NRF se navorsingsleerstoel vir internasionale reg.
Strydom meen die gegriefde oudamptenare se brief is regverdig en tydig. Veral die vrese dat dit die skrif aan die muur vir die VN in sy huidige formaat kan spel. Die VN het weliswaar kort nadat die oorlog begin het, ‘n resolusie geneem waarin hy Rusland se optrede verwerp maar dit het die lankstaande turksvy oor die magslande se vetoreg laat opborrel. Rusland het dit geveto.
Strydom sê die leemtes in die VN-struktuur wentel om die kern Veiligheidsraad omdat sy vyf permanente lede – die VSA, Rusland, China, Brittanje en Frankryk – vetoreg het. Dis bepalend vir die deurvoer, of nie, van besluite wat wêreldvrede raak.
Wat weer die kernrol van die sekretaris-generaal as baas van die VN-plaas onderstreep. “Hoewel hy ook ‘n slagoffer van die uitoefening van vetoreg is, is daar ruimte vir Guterres om meer aktief betrokke te raak,” verklaar Strydom.
Politieke ontleder Piet Croucamp wys op Putin se body language tydens Guterres se besoek, “wat boekdele spreek want hy was nie verwelkomend nie, eerder afwysend.” Dìt kan wees oor die VN se vroeëre resolusie. Nogtans is daar geen verskoning vir Guterres se traagheid nie, stem Croucamp. “Die VN se sekretaris-generaal moet ‘n sekere internasionale statuur handhaaf. Dit sluit in goeie betrekkinge met die magslande se leiers sodat hy ‘n oopdeur het in sy kerntaak as hoofbemiddelaar.”
Beide hy en Strydom verwys na Guterres se voorgangers wie met bemiddeling leiersrolle tydens krisisgebeure gespeel het. Die Burmees U Thant was tydens die Kuba-missielkrisis in die 1960s ‘n huishoudelike naam. Ditto die Sweed Dag Hammarskjöld met die Kongo-krisis en die Peruviaan Javier Pérez de Cuéllar in die Golfoorlog.
Voorts moet die VN met Guterres vooraan, leiding neem in die groot humanitêre krisis weens die Oekraïne-oorlog, sȇ Strydom. “Hy moet konsessies bemiddel om burgerlikes uit gevaarsones te kry.” Dis nog nie te laat vir die VN nie om aan te pas alvorens hy die gevaar loop om as internasionale rolspeler betekenis te verloor, benadruk hy. “Die probleem met die Veiligheidsraad se samesteling en vetororeg lê ook die sekretaris-generaal se doeltreffendheid aan bande en gee diktators soos Putin gulde kans vir magspeletjies.”
Dis egter nie nét Rusland wat sy vetoreg in die Veiligheidsraad misbruik nie, maar ook die VSA wanneer besluite hóm weer nie pas nie, voeg Croucamp by. Geld praat ook hard want onttrek die groot lande hul bydraes, stort die VN in duie.
Strydom sê die Veiligheidsraad kan meer doeltreffend werk as vetoreg afgeskaf word wanneer wêreldvrede bedreig word. Hy beklemtoon ook die VN se suksesse en reuse-betrokkenheid op ander gebiede. Veral met multi-laterale verdrae rondom menseregte. As kruisbestuiwer lei dit tot suksesse wat menslewens regoor die Aarde verbeter. Die organisasie, sy amptenary en agentskappe is oor bykans agt dekades telkemale met die Nobelprys vir Vrede bekroon.
Croucamp stem dat die VN nie kan verdwyn nie. “Die wȇreld is al meer divers en kompleks. Hoe gebrekkig ookal, is dit wat ons het en ons durf nie platforms soos die VN verloor om saam oorhoofse orde te probeer handhaaf nie.”
Dis duidelik die VN beleef sy eie storm inhuis. Die wȇreld en mensdom het groot spronge en skuiwe gemaak in ‘n kort tyd. Die tyd is ryp dat dié internasionale liggaam aanpas om meer gerat vir eietydse eise te wees.