Skip to main content

DIRK LOTRIET

Die wêreld sit met groot genoegdoening en kyk hoe die akteur Johnny Depp en sy voormalige vrou, Amber Heard, se vuil wasgoed in hulle lastersaak in Virginia gewas word.

Die paartjie is in 2015 getroud en die volgende jaar geskei.

Heard het in 2016 beweer Depp het haar gesig gekneus nadat hy ‘n foon na haar in hul huis in Los Angeles geslinger het. Depp het die bewering ontken en is nie van enige misdaad aangekla nie.

Die egpaar het maande later hul egskeiding afgehandel en ‘n gesamentlike verklaring vrygestel wat gedeeltelik lui: “Ons verhouding was intens passievol en soms wisselvallig, maar altyd gebonde aan liefde.”

In Desember 2018 het Heard ‘n opiniestuk vir die Washington Post geskryf waarin sy beweer het sy is die slagoffer van gesinsgeweld. Depp se naam is nie in die opiniestuk genoem nie.

Depp het haar nou hof toe gesleep vir $50 miljoen omdat hy aanvoer hy het groot geldelike verliese gely omdat hy onder meer deur toekomstige “Pirates of the Caribbean”-rolprente in die pad gesteek is nadat hy die franchise vir 15 jaar gelei het.

Hy sê sy het net met haar bewerings vorendag gekom om haar eie loopbaan in die lig van die #metoo-beweging te bevoordeel.

Sy het ‘n teeneis vir $100 miljoen aanhangig gemaak omdat sy meen hy maak haar as ‘n leuenaar uit.

Johnny het twee jaar gelede reeds die hof as ‘n oplossing vir sy probleme met Heard beproef, toe hy die Engelse koerant The Sun in London hof toe gesleep het vir laster omdat die koerant hom ‘n vroueslaner genoem het.

In haar getuienis het Heard vertel hoe Depp te veel gedrink en dwelms gebruik het, en dan in ‘n “monster” ontaard het.

Hy het sy lastersaak verloor, omdat die hof beslis het twaalf van haar veertien bewerings van mishandeling het ‘n waarskynliker kans om eerder waar as onwaar te wees.

Nou, in Virginia, is die geveg egter tussen die twee. Heard hou vol die akteur is ‘n vroueslaner. Depp sê aikôna, die mooi blondine is eintlik die mishandelaar.

Sy probleem is egter dat dit moeiliker is om ‘n lastersaak in Virginia as in Engeland te wen – en hy het reeds die Engelse een verloor.

In Engeland moet die verweerder (die Sun-koerant, in hierdie geval) bewys hulle bewerings is waar. In Amerika rus die las op die klaer om die verweerder se bewerings as onwaar te bewys.

Heard het aansoek gedoen dat die saak uit die hof gegooi word, maar sy het daardie veldslag verloor.

Depp het reeds sy getuienis afgesluit. Hy het haar met groot sukses as ‘n boelie uitgemaak, maar kenners dink nie hy het enige van haar bewerings in die opiniestuk as vals bewys nie.

Heard is nou besig om te getuig. Sy het die Depp-regspan reeds breed laat glimlag toe sy beweer het Depp het sy eksmeisie, Kate Moss, by geleentheid by die trappe afgestamp. Moss en Depp is steeds groot vriende en die verwagting is dat sy sal kan getuig dis nie waar nie. Depp se regspan sal na verwagting kan aanvoer dat daardie “leuen” oor Moss vir Heard as ongeloofwaardig brandmerk.

Is Depp ‘n lieplapper wat in sy dronkenskap en dwelmwaas in ‘n vroueslaner ontaard? Of is Heard ‘n gewetenlose liegbek wat ‘n man se loopbaan verwoes om haar eie loopbaan te bevoordeel?

Ek weet glad nie. ‘n Leeftyd in joernalistiek het my al herhaaldelik die lelike kant van die mensdom gewys, en niks sal my verbaas nie.

Ek dink wel dit gaan vir Depp broekskeur gaan om sy saak te wen.

  • Wat het hierdie saak met Suid-Afrikaners te doen? Behalwe nou vir die feit dat geslagsgebasseerde geweld ‘n groot probleem in Suid-Afrika is, nes kwaai vroue wat lieg om ekse skade te doen ‘n kopseer in ons land is.
  • Hardnekkinge gerugte doen die ronde dat die voormalige Pretorianer en die wêreld se rykste man, Elon Musk, gelyk saam met Heard en haar partytjie-vriendinnetjie, Cara Delevigne, in die kooi gespring het.

Musk het al twee jaar gelede die bewerings ontken, maar Heard en Delevigne is tjoepstil…

Musk en Heard was in ‘n verhouding met Heard na haar huwelik met Depp, maar dis nie heeltemal seker of hulle romantiese verbintenis reeds begin het toe sy nog met die akteur getroud was nie. Musk sê die vryery het eers begin nadat die glanspaartjie geskei is, maar Depp beweer anders.

Leave a Reply