Die 24-jarige Rumeysa Gelgi is met haar lengte van 215,16 cm verlede Oktober deur die Guinness World Records tot die langste lewende vrou verklaar.
Sy hou ook die rekord vir die wêreld se langste tiener, ‘n lengte van 213 cm lank as gevolg van ‘n siekte genaamd Weaver-sindroom. Hierdie sindroom is ‘n toestand wat ‘lang gestalte behels, met of sonder ‘n groot kopgrootte (makrokefalie), ‘n veranderlike graad van intellektuele gestremdheid (gewoonlik lig) en kenmerkende gelaatstrekke’ as simptome uitwys.
Gelgi, wat gebore is met skoliose, (verkromming van die ruggraat), hou ook drie ander rekords: langste rug op ‘n lewende vroulike persoon (59,90 cm), grootste hande op ‘n lewende vroulike persoon, onderskeidelik 24,93 cm vir haar regterhand en 24,26cm vir haar linkerhand, en dan ook vir die langste vinger op ‘n lewende vroulike persoon. Die vingerlengte is 11,2 cm.
“Ek is gebore met uiterste fisieke uniekheid,” skryf Rumeysa op haar Instagram, “en wou soveel as moontlik van hulle erken en gevier hê, in die hoop om ander met sigbare verskille te inspireer en aan te moedig om dieselfde ding te doen en hulself te wees.”