Skip to main content

SONJA BROWN

Motoriste en besighede in Mpumalanga sit met die hande in die hare nadat ‘n stuk van die pad tussen Sabie en Graskop opgeblaas is.


Kennisgewings in die omgewing lui: ‘Die R532 tussen Sabie en Graskop GESLUIT tot verdere kennisgewing weens onstabiele toestande by die sinkgatterrein na eergister se skietwerk. Gebruik asseblief alternatiewe roetes via Hazyview of Pelgrimsrus’.
Lance Gibson, ‘n lid van die “Sinkhole” PSC komitee en houer van die wykskomitee kommersiële diensportefeulje, het ‘n video oor die ramp op sosiale media geplaas, waar dit soos ‘n veldbrand versprei het.
Gibson het aan Die Waarheid gesê: “Op 3 Desember is ons deur ‘n konsultant van die Departement van Openbare Werke (DOW) ingelig dat hulle gaan werk aan wat hulle die ‘sinkgat op die R532’ genoem het. Die R532 is die pad tussen Graskop en Sabie. Dit het later geblyk dat die sinkgat nie ‘n werklike sinkgat was nie, maar net gewone erosie wat veroorsaak is deur verstopte dreinering.”
“Tydens hierdie vergadering het hulle gesê dat hulle hierdie pad heeltemal toe gaan maak vir drie maande.
“Die Sakekamer het natuurlik daarteen beswaar gemaak, want Graskop se inwoners moes regstreekse toegang hê tot hospitale en skole in Sabie. Afleweringsvoertuie gebruik daardie pad om voorraad aan restaurante en hotelle af te lewer. Trokke wat hout aanry asook trokke wat gevaarlike (hazmat) materiaal vervoer vir die mangaanmyn gebruik ook hierdie spesifieke pad.”
“Ná die vergadering het ‘n klomp van ons die stuk pad saam met die kontrakteur besoek en verskeie plekke uitgewys waar ‘n ompad gemaak kon word terwyl hulle aan die ‘sinkgat werk’.
“Gedurende ‘n ander vergadering, hierdie keer in Januarie, is daar aan ons gesê dat die areas wat ons geïdentifiseer het vir deurpaaie nie geskik was daarvoor nie en dat hulle direk langs die pad self, met ander woorde op die pad se rand teen die krans, ‘n ompad sou maak met ‘skietwerk’.
“Gedurende Februarie en Maart was daar twee keer met dinamiet geskiet om ‘n verbypad te skep, maar gedurende ‘n derde vergading in Maart was ons meegedeel dat trokke wat meer as 10 ton weeg te swaar sou wees vir die nuwe ompad. Dit was ‘n reuse probleem vir maatskappye soos York Timbers, Holkay goudmyn en die Bosveld mangaanmyn want al hul trokke se loonvrag-gewig is 36ton.
“Ander alternatiewe is ondersoek, en tydens ‘n vergadering in April was die Sakekamer ingelig dat die DOW sou skiet by die area wat hulle as ‘n sinkgat geïdentifiseer het. Dit was glo om die diepte van die gat te probeer eien waarna dit dan gevul sou word.
“Ons het wéér gevra om verslae van geoloë en landmeters te sien. Die DOW het belowe dat ons verslae van die myngeoloog op die laatste teen die einde van verlede week sou ontvang. Dit het nooit gebeur nie. Ons was die afgelope Dinsdag ingelig dat skietery met dinamiet sou plaasvind en dat die pad noodgedwonge vir ‘n paar dae gesluit moes word.
“Ons het natuurlik dadelik oral heen gebel om te probeer uitvind wat aan die gang was. Die DOW konsultant het net eenvoudig verdwyn. Niemand kon hom in die hande kry nie en hy het op geen van my boodskappe gereageer nie.
“Soos almal nou weet het die vernietiging van die pad net doodeenvoudig eergister voortgegaan. Ek wil net sê dat die dinamiet-eksekusie perfek uitgevoer was. Die bewerings op sosiale media dat daar te veel plofstof gebruik was, is onwaar. Die werklike probleem is dat die geoloogopname en die ingenieurverslag nooit by ons uitgekom het nie. Volgens gerugte blyk die opname en verslag nie voldoende om die opblaas van die pad te regverdig nie.
“Ons mening is dat hulle net eenvoudig besluit het om ons insae, dat daar eerder meer geld moes spandeer word om ‘n behoorlike verbypad te skep, geignoreer het om geld te bespaar.
“Die ontploffing het presies bereik wat hulle wou doen: om die holte in die pad te vul, om die bolaag van die pad te verwoes sodat hulle dit kan verwyder en oor kan bou, om voldoende dreinering in te sit, ensovoorts, maar daar was skade aan die ompad. Dit kan wel reggemaak word deur dit op te vul, maar dit sal steeds nie trokke wat meer as 10ton weeg kan dra nie. Trokke móét daardie roete gebruik. Daar is geen ander pad wat hulle kan gebruik nie.
“Dis is ook baie nadelig vir ons toerisme want die groot busse kan ook nou nie meer daardie roete volg nie en sal ook via Hazyview herlei moet word. Ons besoekers het reeds gekwyn as gevolg van Covid, en nou gaan nóg minder mense hier aandoen.
“Ek self het ‘n klein restaurant, een van vele in die dorp. Dis Vrydagaand, en ek en my vrou is die enigste mense in ons eetplekkie. As ek straataf kyk, sien ek twee karre wat net verbyry. Dis erg; alles wat nou gebeur baat niemand in en om ons dorpie nie. Dalk, eendag wanneer al die konstruksiewerk afgehandel is, sal ons daarby baat, maar nou kan ons dit nie insien nie. Sal ons kan oorleef tot dan? Party projekte se einde lê nog tussen ses en 10 maande ver…
“Ons het vanoggend vergader met die kontrakteur en sy ingenieur en ons het aangedring dat hierdie ompad nou só gebou word dat dit wel die swaarder voertuie van 36ton en swaarder kan akommodeer.”
Die groep sou teen laat gistermiddag terugvoer van die regering hieroor kry, maar soos verwag, het dit nie gebeur nie. “Alles wat hulle in elk geval vir ons sê is ver verwyderd van die waarheid. Hulle konsulteer nie met gemeenskappe nie en doen net eenvoudig wat hulle wil.”

Leave a Reply