ISAAC CLOETE
‘n Voormalige munisipale bestuurder was weer in die hof oor beweerde bedrog.
Nou staan ‘n allemintige R79.9 miljoen of moontlike tronkstraf tussen Nevie Aubrey Baartman en sy mede-beskuldigdes.
Dinsdag se hofverrigtinge was vinnig afgehandel omdat die staat uitstel gevra het. Die staat het aangedui dat daar nog nuwe klagtes bygevoeg kan word. Ook dat ander beskuldigdes betrek kan word, volgens Nonthandazo Mnisi, die Valke se woordvoerder.
Tydens Dinsdagoggend se verrigtinge het die beskuldigdes se regsverteenwoordiger, Duncan Britz, hom van die saak onttrek weens onbekende redes. Hulle het intussen ‘n ander regsverteenwoordiger aangestel.
Die volgende hofdatum is vir 5 September geskeduleer.
Baartman (ook lid van SAFA nasionaal en EFF-leier in die Noord-Kaap) en sy medebeskuldigdes, die egpaar, Zihaadt en Maralise Cloete van Matjieskloof, Springbok, staan tereg op bedrogklagtes.
Tydens Baartman se termyn as munisipale bestuurder by die Nama Khoi munisipaliteit(NKM) op Springbok, het die Cloete-egpaar ‘n maatskappy gestig. Hulle was die alleen-direkteure van die konstruksie-maatskappy, MPG Construction.
In 2013 het die maatskappy vermoedelik onregmatig ‘n tender van R79.9 miljoen bekom, volgens Mnisi. Die staat voer aan dat dié maatskappy toe nie aan die nodige tendervereistes voldoen het nie. Blykbaar was die erkende aankoopprosesse ook verontagsaam. Dit is ook wydbekend dat Baartman goed bevriend is met die Cloete’s.
Die AfriForum-tak op Springbok was die klaers in die saak. Eers in June 2021 was die drie, asook die maatskappy, MPG Construction, gedagvaar om in die hof te verskyn.
AfriForum se voorsitter op Springbok, Sarel Stone, het gesê: “Ons is verheug dat die saak kan voortgaan. Maar ook bly dat daar nog sake bygevoeg kan word. Of ander beskuldigdes betrokke kan raak.”
Volgens hom maal die wiel van geregtigheid nou stadig, maar vir seker tot voordeel van die plaaslike gemeenskappe wat oor lang tye hierdeur benadeel was.
“Ek glo dat daar nog heelwat sake uit die een sal voortspruit. Dié saak wys net watter mate van ongerymdhede onder ons neuse plaasgevind het, sonder dat ons daarvan bewus was.”
Intussen gons inwoners op Springbok nadat die Valke onlangs weer laag oor die NKM “gesweef ” het.
Hieroor het die speaker, Rodney Kritzinger, gesê dat ‘die Valke nou gerus ‘n bietjie laer kan vlieg’.
“Die Valke was hier vir ondersoeke oor die aanwending van die fondse vir Covid-19 grafte. Daar’s nog ander sake ook.”