Skip to main content

Downton Abbey: A New Era

Historiese drama

Met Maggie Smith, Dominic West, Hugh Dancy, Laura Carmichael, Jim Carter, Brendan Coyle, Michelle Dockery, Elizabeth McGovern en Imelda Staunton.

Son sak (nog) nie oor adelland nie

Sonnette Lombaard

Niemand doen prim en proper so perfek en plesierig as die stywelip Britte nie. Of dit nou posh-formeel is, of ‘n opskop-okkasie soos die romcom-wenner Four Weddings and a Funeral (1994). Dit sleur jou moeiteloos mee met die wel en weë van Britte vanuit alle stande.

Downton Abbey is ’n tuisgemaakte fenomeen reguit uit adellike hartland. As wêreldwye wegholwenner op die kleinkassie het dit het oor ses seisoene van 2010-2015 ongekende sukses behaal en is grensloos uit alle oorde multi-bekroon – selfs die Guinness World Record het dit as mees bekroonde Engelse TV-reeks erken. Vanselfsprekend wil die skepper en skrywer Julian Fellowes en sy sterspan, wat spog met van die Britte se top-toneeltalent, dié reuse-suksesgolf so lank moontlik ry.

Reeds met die eerste fliek Downton Abbey (2019) is oor ‘n volgende grootdoekopvolg gegis. Nou is die afgewagte tweede aflewering hier en ja, nog wink. Downton Abbey: A New Era stel nie teleur nie en soos die naam verklap is daar nuwe kinkels … wat die pad koninklik plavei vir nog grootdoekbesoeke aan die fiktiewe aristokratiese Crawley-familie en hul span huisknegte op die enigmatiese Engelse platteland.

Die nuutste aflewering oor die geliefde inwoners van Downton Abbey zoem in op die na-oorlogse periode toe bloubloed guitig afgewys en baljaar het wyl die “son nooit oor die Briste vlag gesak het nie”. By die fiktiewe spoglandgoed Downton Abbey in Yorkshire is als en almal in rep en roer wanneer ‘n nuwe geheim van die siek matriarg barones Violet Crawley (Maggie Smith) op die lappe kom. ‘n Onbekende Fransman laat ‘n asemrowende villa in die Franse suide aan haar na. Wyl die ouerwordende barones bedrus en vinnig maar statig agteruitgaan, vertrek van die Crawley-familielede na Frankryk om die geheim agter die erflating te ontrafel.

Tuis word Downton Abbey ook op sy kop gekeer wanneer ‘n fliek in die huis geskiet word – broodnodig vir die geldkoffers vir herstelwerk aan die herehuis. Die nuwe draaiboek stel nuwe karakters aan ons bekend wat by die geliefde, ou bekendes aansluit. Hulle doen begeesterd aan die Downton-statuur mee. Hugh Dancy as die regisseur van die stilfliek wat in die huis geskiet word, en Dominic West as rolprentster Guy Dexter wat opdaag met ‘n geheim in die kas … speel stewig.

Deel van dié terugvoersjarme is dat hoewel Downton Abbey ‘n fiktiewe storie is, word dit histories getrou ingekleur met regte gebeure tussen 1912-1926. Hier is die oorgang van stil-na praat-rolprente in die storie ingewerk. Die man aan die stuur moet ook krediet kry want stoot jy so stoetram uit, torring jy nie te veel aan die wenresep se bestandele nie. Ervare Brit-regisseur Simon Curtis het sukses behaal op die kleinkassie en grootskerm met sterk biografiese dramas soos My Week with Marilyn (2011) en Woman in Gold (2015).

Asof die beeldskone Engelse plattetland (hier met die bonus van die Franse eweknie) nie genoeg verleivermaak is nie, is die span gevestigde en nuwe spelers deurgaans op hul stukke en sorg vir kykgenot propvol pret, trane en plesier tussen hartseer-afskeide en nuwe beginne.

Wyl koningshuise se voortbestaan in die regte lewe gereeld onder loep is, kan die betowering van tydlose tradisies in ‘n klipharde wêreld nie ontken word nie. Dit sluit bloubloedmanewales in. Periodedramas met terugroepe na glorieryke trone te midde van menswees se triomftogte en skandes sal in die mode bly.

Hoewel die TV-reeks uit sommige kringe gekritiseer is vir sy simpatieke uitbeelding van die aristokrasie, het die laaste seisoen juis gefokus op die opkoms van die werkersklas en geskimp op die einde van die Britse monargie. Tot tyd en wyl, is kuiers by Britse adellikes soos aansit vir stapel bloubloed vis & tjips.

Leave a Reply