Soos dit ‘n bende struikrowers betaam, bly die ANC maar behep met maskers.
Nadat die regering verlede maand die ramptoestand – wat in 2020 vir 21 dae aangekondig is – as iets van die verlede verklaar het, het hulle nou ‘n spul “nuwe” Covid-oorgangsmaatreëls bekendgemaak – sonder sprake van ‘n verstrykdatum.
Wat in wese niks anders is as die drakoniese ramptoestand-snert waarmee ons al bitter lank sit nie. Soos om steeds maskers te moet dra.
Om alles te kroon, kan Joe Phaahla besluit wanneer maskers nodig en onnodig is. Joe wie? Joe moer!
Kyk na die stomme Joe se logika: Kinders moet op pad skool toe, tussen tien of twaalf ander taxiryers, ‘n masker dra. Maar in oorvol klaskamers tussen vier maal soveel opgehoopte klasmaats, is dit onnodig. Lyk ons die koronavirus is bang vir ses van die bestes!
As Suid-Afrikaners binnenshuis wil vergader, moet hulle ‘n geldige inentingskaart of kraakvars covid-toets hê. Terwyl enige ingeligte mens weet inentings werk glad nie vir die heersende omicron-variant nie.
Wie sê so? Die wetenskap – dis wie! Eweknie-geweegde, gepubliseerde navorsing het bevind dat twee dosisse Pfizer na 24 weke of meer 0-10% effektief is om die oordraging van die omicron-variant te keer. Presies so effektief soos abracadabra of Wilson-toffies. Of, as jy daarop aandring om gatgabbas met die Chinese te wees – White Rabbit-swieties.
Maar Vaak Joe-hulle is dolgelukkig met slegs ‘n enkele dosis ‘n jaar gelede as jy massa-byeenkomste wil bywoon.
Cyril, jy en jou rampokker-regering moet julle nuwe “oorgangsreëls” vat en druk waar Eskom selfs voor kader-ontplooiing nie kon lig maak nie. En stuur sommer julle onwetenskaplike hocus-pocus na dieselfde plek toe.
Ons land is op die rand van algehele ineenstorting. Ons mense sterf van die honger omdat julle die ekonomie eers deur julle onbeholpe stommiteit deur julle agterwêrelde getrek en toe met julle onnosele covid-regulasies finaal gekelder het.
Ons probeer om in die bitter moeilike omstandighede wat julle geskep het, aan die lewe te bly. Staan opsy, julle is net in die pad. As dit moet, sal ons al Joe se maskers brand om vir ons lig te maak. Want julle kan tog in elk geval nie vir ons lig gee nie.