Buiten vuurvliegies wat in die donker gloei, is daar ook visse en selfs soogdiere wat dieselfde kan doen.
‘n String nuwe ontdekkings het ‘n wyer wêreld van gloei-in-die-donker lewensvorme ontbloot, berig Science Focus:
Sekere Australiese soogdiere, insluitend Tasmaniese duiwels, gloei in die donker deur middel van regulasie van spesiale proteïene in die vel of pels wat gedurende die dag energie van sonlig absorbeer.
‘n Afrika-knaagdier, die springhaas, het in 2021 een van die eerste nie-Australiese soogdiere geword wat daarop kan roem dat dit ‘fluoressieer’. ’n Geheime lappieskombers van ‘ligmerke’ is op sy flanke, wat elk bestaan uit organiese verbindings genaamd porfiriene wat in die pels voorkom, ontdek.
Vuurvliegies se manjifieke ligvertonings word geproduseer deur ‘n chemiese reaksie wat in die dier se buik plaasvind. ‘n Molekule genaamd luciferien meng met kalsium en suurstof in die teenwoordigheid van ‘n ensiem genaamd luciferase, wat veroorsaak dat energie in die vorm van lig vrygestel word.
Die larwes van ‘n klein muggie (Arachnocampa luminosa) produseer ‘n nes van taai drade, gloei dan, en lok só vlieë om te vang en te vreet. Hierdie Nieu-Seeland-gebaseerde swammuggie is een van ‘n handvol vlieë wat daarvoor bekend is dat hulle lig kan produseer.
In die diepsee, waar die lig van die son nie kan bereik nie, is 90 persent van see-organismes ‘bioluminescent’, m.a.w. hulle produseer lig deur die vermenging van reaktiewe chemiese middels of deur ligproduserende bakterieë.
‘n Ontdekking in 2021 van ‘n 1,8m haaispesie, die kietvinhaai, wat ook in staat is om te gloei, het bioloë verstom. Dit is die grootste ligproduserende gewerwelde dier wat nog ooit ontdek is.
Fluoresserende vlieënde eekhoring is ook ‘n nuwe ontdekking. Tot bioloë se verbasing het elkeen van dié nagspesies in die donker gegloei, iets wat die spesie wat gedurende die dag aktief was, nie gehad het nie.
Ja, praat van ‘n verligte era…