Meer as R12 miljoen is in die staatskas terugbetaal deur van die meer as 3 268 staatswerknemers wat onwettig by Sassa-toelaes baat gevind het.
In 2021 is aan die lig gebring dat meer as R200 miljoen se staatstoelaes aan die staatsamptenare betaal is. Alhoewel sommige moontlik geregtig was op toelaes wat deur die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) versprei is, was hulle nie geregtig om die spesiale Covid-19-toelae vir Maatskaplike Verligting van Nood (SRD) te ontvang nie. Die SRD-toelaag is in 2020 tydens die Covid-19-pandemie ingestel om werklose individue by te staan.