ISAAC CLOETE
‘n Gemeenskappie skree blou moord nadat ‘n vermeende kindermolesteerder vrygespreek is.
Hy is ‘n 52-jarige getroude onderwyser (sy naam is aan Die Waarheid bekend) uit die Wes-Kaap wat tereg gestaan het op verskeie klagtes, onder meer seksuele aanranding sonder die toestemming van die slagoffers.
Die beweerde voorvalle het oor ‘n tydperk by ‘n Noord-Kaapse skool vir leerders met spesiale behoeftes gebeur.
Hier was die onderwyser ‘n koshuisvader en adjunkhoof. Gedurende 2019 was die voorvalle aangemeld en ‘n kriminele saak teen hom gemaak.
Slegs vier van die vele meisies was by die hofsake betrokke, volgens ‘n ingeligte. Die persoon wat nou betrokke is by die meisies het gesê: “Die staat het ons gefaal. Watter 16-jarige skooldogter is rêrig lief vir ‘n 52-jarige ou man, soos dit in die hof aangevoer was?”
Een van die slagoffers se mammie het vertel dat haar dogter (nou19) ‘n heeltemal ander persoon is. Volgens haar het haar dogter nog nie ‘n rêrige boyfriend nie, maar sy chat wel met een.
“Dit lyk asof my meisiekind vir mans bang is. Ek kon dit nooit verstaan nie, waarom my meisiekind soms twee bra’s en twee panties skool toe aangetrek het. Nou verstaan ek dat sy haar eintlik wou beskerm teen die onderwyser.”
Volgens die ontevrede ma wou dié onderwyser selfs een keer vir haar dogter ‘n selfoon koop. Sekere meisies, soos haar dogter, was ook gereeld na die onderwyser se kantoor ontbied. Hy was ook lief om vir hulle lekkergoed en geld te gee., of hulle saam te neem na funkies of byeenkomste, volgens die ma.
Sy bieg verder. “Ek was baie teleurgesteld oor die uitkoms van die saak. Die staat se redenasie was dat my dogter toe reeds 16 was en dus gereed was vir seksuele aktiwiteite.”
Geoffrey van der Merwe, die woordvoerder van die Noord-Kaapse onderwysdepartement, het vertel dat die onderwyser binnekort aan ‘n dissiplinêre verhoor onderwerp gaan word. En as hy skuldig bevind word, sal hy permanent van die raad vir opvoeders (SACE) geskraap word.
Volgens Van der Merwe is die departement ‘n “bietjie strenger” as die howe om ‘n beskuldigde skuldig te bevind.
“Hy was onskuldig in die hof, volgens ons inligting. Maar onthou, as ‘n bewyslas gebruik die hof die reël van ‘bo redelike twyfel.’ Daarenteen gebruik die departement ‘n bewyslas op grond van ‘n waarskynlikheid.”
Die Waarheid het intussen verneem dat die beskuldigde al vir drie jaar tuis is met volle salaris. Niemand is nog in die twee posisies wat hy voorheen by die skool beklee het, aangestel nie.
Van der Merwe het vertel dat dit maar normale prosedure is om persone met sulke klagtes teen hulle van die skole weg te haal.
“Hy is tans op voorsorgende en voorlopige skorsing totdat die departementele saak afgehandel is. Dit verhoed dat hy byvoorbeeld met getuies of bewysstukke kan inmeng. Of in kontak kom met die kinders en hulle byvoorbeeld viktimiseer.”