Skip to main content

Musk(us) is millennium se geur

‘n Pretoria boykie se naam is deesdae op almal se lippe. As meesterbrein-uitvinder, bold belegger, rykste man en vreeslose visioenȇr, verskuif Elon Musk manalleen grense en is bestem om die eerste koning van die kosmos te word. Sonnette Lombaard berig. 

Cometh the hour, cometh the man”. Ironies dat dié uitdrukking geassosieer word met ‘n gebeurtenis in Durban. Die Engelse snelbouler Cliff Gladwin het dit in 1948 geuiter nadat hy die wenlopies in die snelbyt-kriekettoets teen Suid-Afrika gedeflekteer het. Dieselfde jaar debuteer die gewraakte apartheidstelsel … wat later een van ons goue tuisseuns sou wegjaag. Elon Reeve Musk, ‘n Jakarandastad-boorling wat aan Pretoria Boys High gematrikuleer het, is die man van die moment oor grense. Sy verset teen verpligte diensplig het hom destyds oorsee laat skoert. Hy het nooit teruggekyk nie. Al gedoop die 21ste eeu se Thomas Edison, maak sy meteorietiese opgang veral as futuristiese voorloper opslae.

Steve Jobs het kuberkoning cool en hip gemaak en die pad vanuit Sillicon-vallei na rykdom en glansroem gebaan maar Musk en sy enigmatiese persona en veelsydige talente neem dit as eietydse pionier veel verder. Musk deel met Jobs ‘n goed gedokumenteerde twis met sy pa. Hy betreur nou sy besluit om na sy ouers se bitter egskeiding by hom groot te word en erken dat hulle vervreemd is. Dit het hom egter nie gestuit nie en teen sy halfeeu-verjaarsdag laas jaar was Musk met $252 billjoen amptelik die wêreld se welafste mens. Waarmee hy woeker want hy broei nie op sy skatte nie – sy sakeryk se uitbreidings, uitvindsels en pionierprestasies van hier tot in die buitenste ruim hou almal op hul tone. Die meesterbrein agter onder meer Tesla, is boonop nie op sy bek geval nie. Oor niks nie, waarmee hy die kollig annekseer.

Skaars het Musk die sosiale media-reus Twitter, wat hyself ywerig vir kommunikasie inspan, vir $44 biljoen gekoop of hy rig sy visier om Coca-Cola by sy uitkringende koninkryk te voeg. Intussen woeker sy SpaceX-maatskappy met een na ander prestasie in die buitenste ruim. Insluitende om toeriste daarheen te vervoer en lei die primaprys-wedloop om eerste op Mars te land. Op Moeder Aarde sit Musk agter die hipermoderne Hyperloop-voorstel, ‘n hoë-spoedtonneltrein vir vorentoe…

Buiten sy wetenskaplike prestasies, ook as multi-bekroonde entrepreneur-uitvinder, haal Musk gereeld die nuus oor sy menings en uitsprake oor van politiek, anti-depressante tot sy teenstand van die mediese vooruitgang wat mense al ouer sal laat word. Dít terwyl hyself reuse-bedrae instoot in die snel-vooruitgang op neurologiese gebied. Waarby hyself kan baat: Musk het tydens sy aanbieding van Saturday Night Live in 2021 bevestig, wat lank vermoed is, dat hy Aspergers-sindroom het. Dis ‘n vorm van outisme.

Hy het ook onlangs rou-eerlik erken dat hy op 50 “medium gelukkig” is, eensaam voel en met depressie kleitrap. Wat verklaar waarom sy mede-mens met sy eietydse, vlees-en-bloedheld kan vereenselwig. Terseldertyd jaag hy gereeld veral verligte – en sosiaalbewustheidsgroepe – die harnas in met sy klappe na woke en die transkultuur.

Wie is hierdie grenslose presteerder met vele gesigte weg van die lawaai? Sy Suid-Afrikaanse pa Errol, ‘n elektromeganiese ingenieur, loods en seiljagvaarder, se skandes is al wyd oopgevlek. Errol se Kanadese vrou Maye wat hier grootgeword het, het op 28 Junie 1971 in Pretoria geboorte aan hul eersteling gegee. As oudste van drie kinders, het Elon se skerp oog en brein vir nuwe uitvindsels reeds teen tienerwees getref. Op 12 was hy vlot met rekenaarprogrammering. Musk het al bely dat hy as skaam, eenkantkind erg geboelie is.

Na ‘n kort draai op die Tukkie-kampus skop hy op en emigreer op 17 na Kanada. Hy behaal grade in ekonomie en in fisika aan die Universiteit van Pennsylvaniȅ en verhuis daarna na Kalifornië om by Stanford verder te swot maar, begeesterd deur die internet boom, kies hy om eerder sy besigheidsdrome te lanseer. Saam met sy broer Kimbal stig hy die kuber-sagteware maatskappy Zip2, wat Compaq vir $307 miljoen in 1999 koop. Toe volg ‘n aanlynbank wat in 2000 PayPal sou word. Twee jaar later koop eBay dit vir $1.5 biljoen. Musk se planne kon vrye teuels kry en in 2002 stig hy die ruimtevervaardiger- en vervoermaatskappy SpaceX, waarvan hy CEO en hoofingenieur is. In 2004 sluit hy as produkargitek by die elektriese voertuigbaanbreker Tesla Motors aan, wat hy sedert 2008 lei. In 2006 help hy om SolarCity, ‘n solarenergiemaatskappy, van die grond te kry. Wat Tesla koop en tot Tesla Energy herdoop. In 2105 stig hy OpenAI, ‘n nie-winsgewende navorsingsmaatskappy wat “vriendelike” artificial intelligence (AI) bevorder. ‘n Jaar later volg Neuralink, ‘n neurotegnologiese maatskappy wat brein-rekenaarkoppelvlakke ontwikkel. Vir sydelingse plesier voeg hy The Boring maatskappy, gemoeid met tonnelkonstruksie, by sy sakeryk. Vanjaar volg Twitter.

Musk was dadelik in die sop toe Twitter-werknemers hom van homo- en transfobie beskuldig het. Dit volg nȧ sy uitsprake dat die woke mind-virus die skuld moet kry dat Netflix se aandele gedaal het en hordes intekenaars vort is. Volgens Musk jaag dié data-stroomdiens se agteroorbuig vir die woke-kultuur kykers weg. Selfs die Dems in Yankland se nuwe hoop het in die kryt geklim nadat Musk boonop gesȇ het verlinkses het die Demokratiese Party gekaap. Kongreslid Alexandria Ocasio-Cortez (kortweg AOC) het oor die naweek na Musk gemik in ‘n twiet oor hate crimes. Daarin verwys sy na hom as ‘n “biljoenêr met ‘n ego-probleem”. Waarop Musk terugtwiet: “Stop hitting on me. I’m really shy”. AOC het haar twiet blitsig verwyder.

Hoewel Musk eerder soms onbeholpe as arrogant oorkom, vat hy kritiek op sy kinnebak. Soos Steve Jobs is sy bestuurstyl omstrede, aangehits deur beweerde onwetenskaplike uitlatings, vals twiets en wankommunikasie oor AI, die krypto-geldeenheid, pandemie en politiek. Tog het Musk gespring om te help in die Tham Luang-grotreddingsaksie in Thailand in 2018 toe ‘n junior sokkerspan daaruit gered is. En hy is ‘n voorbok vir hulp aan Oekraȉnie nȧ die Russiese inval. Hy is ook nie skaam om ruim van sy biljoene met liefdadigheid of sake wat hom geval, soos musiekprojekte, te deel nie.

Musk het in 2020 sy tuisstaat Kalifornië van “opgeblase selfwaan” beskuldig en na Texas verhuis. Sy liefdeslewe is ewe omstrede. Hy was getroud met die Kanadese skrywer Justine Wilson, by wie hy vyf seuns het. Die vyf, ‘n tweeling en drieling, is deur kunsmatige inseminasie verwek nadat hulle eerste seun op tien weke aan die wiegie-sindroom dood is. Hulle is in 2008 geskei en deel toesig oor hul seuns. In 2010 trou hy met die Engelse aktrise Talulah Riley en skei twee jaar later. Hulle probeer weer in 2013 maar die vlam blus gou. In 2018 begin hy ‘n verhouding met die Kanadese musikant Grimes en hul seun, in 2020 gebore, dra die vreemde name X AE A-XII Musk (“X” is sy eerste – en “AE A-XII” die middelnaam). Die paartjie se paaie skei nadat hul dogter, via surrogaatswangerskap, einde 2021 gebore is. Sy heet Exa Dark Sideræl Musk, met die noemnaam “Y”.

Tusendeur volg vuurwarm-romanses met glansvroue, soos aktrise Amber Heard. Musk is juis tans een van Heard se ondersteuners in haar morsige hofsaak waarin sy en haar eks, Hollywoodakteur Johnny Depp, mekaar kaal(vuis) pak en vuil wasgoed in die openbaar was.

Die eerlikheid oor sy mislukkings en stryde is wat Musk mens maak en ouderdomloos laat aanklank vind. Soos biljoenȇrs voor hom en die hedendaagse jong Sillicon-stinkrykkader, is die eksentriekheid daar maar etikette perk hom nie in nie en Musk mars aan. In die proses het hy die flambojante Virgin-baas sir Richard Branson, wat eens die ruimtewedloop vanuit die private sektor gelei het, agtergelaat.

Musk se statuur as visionêr en vaandeldraer toring hoog en kom nie dikwels verby nie. Interessant, is die gesogte muskusgeur oor eeue een van die duurste dierprodukte en word uit die manlike Muskushertbok se klier verkry. Wel, waar jy kyk of lees, Musk is die man en geur van die millennium. Hy hou sy vinger op die tydpols, waag wyd en groot, maak soms foute maar bly floreer, ook in teenspoed. Geen wilde winde klits hom uit nie. Nog net 50, is sy nalatenskap reeds ryk en kring sy merk en invloed oor grense. Hy verdien om die eerste koning van die kosmos te word.

Leave a Reply