SA onderwyseres, Nomaqocwa Blackie (29), van Motherwell in Gqeberha, se lyk is op 18 April in haar woonstel in China ontdek nadat die lokale polisie by haar woonstel ingelaat is.
Blackie, wat in 2017 na China is om Engels af te rig, se kollega, Abongile Mboto, was saam met die polisie toe die ontdekking gemaak is. Haar lyk was langs haar bed op die vloer gevind.
Volgens Blackie se ma, Nombulelo (68), was Mboto agterdogtig toe Blackie versuim het om werkmateriaal in te dien, en het die polisie gebel.
Dit is nie bekend wat die oorsaak van haar dood was nie. Die polisie ondersoek nog die saak om te sien of daar gemene spel was.
Die familie en die departement van internasionale betrekkinge probeer maniere uitwerk oor hoe om haar liggaam na Suid-Afrika te repatrieer sodat die familie haar begrafnis kan hou.