Skip to main content

’n Man het na bewering vier minderjarige seuns in sy voertuig gelaai nadat hy beweer het hulle het sy voertuig met klippe gegooi.

Die voorval het Saterdagmiddag in Roperstraat in Kimberley plaasgevind.

Die vier seuns van tussen ses en tien jaar oud het verby die verdagte se silwerkleurige Toyota Corolla geloop toe die verdagte die seuns voorgekeer het en in sy voertuig gedwing het.

Volgens die kinders wou die man glo hê hulle moes erken dat hulle klippe na sy motor gegooi het. Die twee kleiner seuns het begin huil en die man het die twee toe afgelaai en met die twee ouer seuns weggery.

Volgens die polisiewoordvoerder, Lt.kol. Sergio Kock, het die verdagte verder met die twee ouer seuns rondgery, maar kon hy nie daarin slaag om ’n bekentenis uit hulle te kry nie. Die seuns is later ongedeerd naby die tak van Burger King in Kimberley se middestad afgelaai.

’n Verbyganger het die twee seuns daar gevind en hulle na die polisiestasie geneem.

Die polisie doen ’n beroep op enigeen met inligting om Speursersant, Attie Browers by 067 022 5141 te kontak.

Leave a Reply