Die Namibiese polisie het ’n moontlike mensehandelsindikaat ontbloot wat jong Namibiërs onder die dekmantel van werksgeleenthede na die Midde-Ooste lok. Daar word vermoed dat tot dusver 26 Namibiërs tussen die ouderdom van 27 en 40 na Oman is vir mensehandel.
Die polisie het berig dat ‘n ondersoek in Maart 2022 van stapel gestuur is waarin verskeie mense ondervra is – en onder dié mense is diegene wat amper die slagoffer van die sindikaat geword het, maar hulle kon gelukkig daarin slaag om te ontsnap.
‘n Verslag deur die VN se dwelm- en misdaad-agentskap het gewaarsku dat die COVID-19-pandemie ook kan bydra tot ‘n toename in mensehandel. Die Mensehandel-verslag sê armoede wat voortspruit uit verlore werksgeleenthede of ander ekonomiese geleenthede het die afgelope jaar die poel mense wat die kwesbaarste is om verhandel te word, vergroot.