Skip to main content

ISAAC CLOETE

Eers ‘n berugte,  toe beroemde en nou weer berugte plaasboer.

So verloop die verhaal van Albertus Steenkamp, ‘n bekende plaaseienaar van Perdekloof, naby Middelpos, in die Hantamgebied.

Steenkamp het onlangs ontpop in ‘n gewilde deelnemer aan die TV-program Boer soek ‘n vrou. Baie kykers het hom hierna as held en ster beskou.

Steenkamp was Saterdagaand opgesluit vir roekelose en nalatige bestuur op Calvinia. Dit, nadat ‘n verkeersbeampte ‘n voertuig opgemerk het wat oor ‘n stopstraat gery het.

Volgens ‘n ingeligte het hy ‘n verkeersmotor met flitsende blou ligte agter ‘n voertuig sien jaag.

“Steenkamp en twee buitelandse werkers was in die voertuig. Hy het onsamehangend gepraat en na sterk drank geruik.”

Omdat die beskuldigde hom verset het teen arrestasie moes die polisie se hulp ingeroep word. Hulle het vir Steenkamp gearresteer en hom weggeneem om sy bloed trek. Volgens inligting bekom, het Steenkamp glo aan die hospitaalpersoneel vertel dat hy aan ‘n seldsame siekte ly.

Hierna is hy na die selle geneem. Omdat hy gekla het van maagpyne is hy, onder polisie-bewaking, na die Abraham Esau hospitaal geneem en opgeneem.

Intussen het sy regsverteenwoordiger probeer om oor die naweek borgtog vir hom te kry. Dit was geweier weens die aard van die klagtes teen hom.

Hy was op eie verantwoordelikheid uit die hospitaal ontslaan luidens ‘n aanbeveling van sy dokter. Na verneem word is hy na ‘n Kaapse mediese sentrum verwys, volgens Die Waarheid se bron.

Volgens die polisie op Calvinia was Steenkamp wel opgesluit. Sy hofsaak was vandag in absentia gehou. Die saak is vir drie maande tot 25 Julie uitgestel. Dit is om die ondersoekbeampte tyd te gee om die bloedmonsters voor te lê asook die verslae van Steenkamp se dokter.

Steenkamp het Die Waarheid se oproepe verwerp. Ook wou hy nie op stemboodskappe asook ‘n teksboodskap reageer nie.

* Intussen moet Steenkamp ook nog in die hof verskyn oor ‘n noodlotige ongeluk op sy plaas, Perdekloof, in 2020. Dit nadat een van sy werkers, Izak Pienaar, glo in baie vreemde omstandighede van die dak van ‘n huis na sy dood geval het.

Leave a Reply