Skip to main content

Beste nog, ons mars voort – Marine

Die pasafgelope presidensiële verkiesing bevestig Frankryk is meer verdeeld as ooit en bewys regse partye se groei in Europa is g’n vloekskoot nie maar ‘n geloofwaardige alternatief, skryf Sonnette Lombaard.

“Ek sal die Franse volk nie verlaat nie en voortveg,” het Marine Le Pen gisteraand belowe nadat sy in haar derde mislukte poging vir presidentskap nogtans ’n rekord-aantal stemme getrek het. Kenners beskou dit as ‘n regmerk vir die opkoms van nuwe nasionalisme en regse politieke partye in Europa. Kort nȧ die uitslag moes die polisie ingryp toe onluste uitgebeek het en die land meer verdeeld as ooit gelaat het.

Le Pen van die verregse National Rally Party het in die presidensiële stryd nagenoeg 42% stemme getrek teenoor pres. Emmanuel Macron van die liberale Republikeinse Party se sowat 58%. Macron gaan binnekort ‘n nuwe opdraande stryd tegemoet wanneer die Franse parlementêre verkiesing volg. Hy is die eerste Franse president in 20 jaar om vir ‘n tweede termyn herkies te word, en het in sy oorwinningstoespraak voor die Eiffeltoring toegegee dat hy ‘n gefragmenteerde volk lei en gaan fokus op hervorming en vereniging. Na sy eerste termyn is hy wyd gekritiseer vir sy “afsydige arrogansie” van realiteite waarmee sy landgenote worstel. Dit sluit in stygende lewenskoste, aftree-ouderdom (pensioen) en ‘n verdeelde volk weens die uitkringende immigrante-kwessies.

Le Pen het dit uitgebuit en haar nasionalistiese beleid van “Frankryk eerste” gematig aangepas om tot meer kiesers te spreek. Dit het vrugte afgewerp en die uitslag gee nou groter geloofwaardigheid aan die regse partye se opkoms oraloor op die vasteland. Le Pen het die gaping tussen haar en Macron in die Franse politiek verklein en as verregse in ‘n liberale bastionland die meeste stemme nog gekry. In die laaste 2017-verkiesing het sy 34% en Macron 66% van die stemme gewen.

Die groot wegblystem van die bykans 49 miljoen stemgeregtigde kiesers wat buite stemming gebly het, is insiggewend en bevestig ‘n Franse volk diep verdeeld in die moderne millennium. Macron se sege is blitsig en luid verwelkom in Brussels waar Le Pen, vurig uitgesproke teen die Europese Unie (EU) en Nato in hulle huidige gedaantes, se groei en gewildheid met kommer gevolg is.

Le Pen het reeds ‘n beroep gedoen op haar bondgenote aan die regterkant van Frankryk se politieke spektrum om hande te vat vir die volgende groot stryd oor ses weke. Die Franse stem weer in Junie in die parlementêre verkiesing wat ‘n nog hoër hekkie vir Macron kan wees – anders as in 2017 sal sy party na verwagting nie weer ‘n tweederde meerderheidsteun in die parlement kry nie. ‘n Alliansie tussen Len Pen en ander regse partye sal Macron aan bande lê en kan Frankryk se leiersrol in Europa en elders beïnvloed.

Haar vertoning sê veel vir Le Pen wat lank doelgerig werk om haar regse party se beeld na buite te versag en te verbeter. Sy het haar omstrede pa, die verregse Franse leier Jean-Marie Le Pen, opgevolg. As moderne partyleier het sy oor tyd huis skoongemaak en ook haar pa in 2015 uit die party geskors na sy uitlatings oor o.a. die Nazis se volksmoord.

Na vyf onstuimige jare vir die mensdom met onder meer die pandemie en voortwoedende Oekraïne-oorlog het die Franse volk bestendigheid en stabiliteit gekies. Marine Le Pen het verloor, maar is nie verslaan nie. Nasionalistiese oogmerke is nou amptelik nie langer ‘n vloekwoord in Europese politiek nie en op 53 is sy jonk genoeg om weer oor vyf jaar vir president in in 2027 te staan. Ingevolge die Franse grondwet mag Macron nie nȧ twee termyne weer staan nie. Die stryd het nou eers vlamgevat.

Politieke ontleder Piet Croucamp meen soberheid het in Frankryk geseëvier. Dié politieke dosent aan die Noordwes-Universiteit glo dis vir die groter goed dat Macron die pyp gerook het omdat Le Pen die “slegter” keuse sou wees gesien internasionale verwikkelinge en huidige diskoerse. “Frankryk is ‘n sterk en gevestigde demokrasie. Die wêreld sou moeilik tans met ‘n konserwatiewe Frankryk huis gehou het.”

Volgens Croucamp het populis Donald Trump se onvermoë om in die VSA vir ‘n tweede termyn die Withuis te haal, bewys gevestigde demokrasieë word nie so maklik ontwortel nie en mȯét aktief in die internasionale politieke kryt bly. “Groter politieke skuiwe is kompleks, en meer so met moderne eise en eietydse gediverseerde demografieë.” Frankryk en Wes-Europa het ‘n leiersrol in die voorbeeld en daarstel van demokrasie wȇreldwyd, asook die vestiging van ‘n sterk ekonomie, benadruk Croucamp.

Hy wys daarop dat dit juis meer liberale denkwyses is wat daartoe gelei het dat 51% van die wêreld se bevolking nou middelklas-status geniet. “Wys my enige mens wat nie daartoe aspireer nie.”

Croucamp maan tot nugterheid te midde van die “lawaai” oor verskillende beleide en denkrigtings en die sg. opbloei van veral regse partye. “Dis soms kortstondig van aard en kan kom en gaan maar standhoudende stelsels bly lank staan.”

Hy erken wel samelewings raak al hoe meer divers en dat gevestige demokrasieë daarmee sukkel. Regse partye met nasionalistiese en behoudend-konserwatiewe denkrigtings tree in weerwil van dié tendens op, wyl gevestigde liberale demokrasieë juis vir aanpasbaarheid en snelveranderde samelewings gebou is. Hulle streef na oplossings en skep meer oop en mededingende samelewings in algemene belang,” verduidelik Croucamp.

Hy is oortuig dat die mensdom nié deur vraagstukke gedefinieer word nie maar eeder deur die oplossings wat daarvoor gevind word. “Oor die eeue het menswees se indentiteit noodgedwonge verander. Alle mense groei en moet voortdurend aanpas ter wille van oorlewing. Die mens is gerat vir verandering. Dis hoekom ons as spesie voortbestaan.”

Leave a Reply