Skip to main content

Ministers en adjunkministers in Suid-Afrika het die afgelope drie jaar meer as R1,3 miljard aan kos, verblyf en vermaak bestee. Dìt volgens ‘n berig in City Press.

Die departement van justisie en korrektiewe dienste was die grootste geldmorsers met ‘n verblyfbesteding van R282 miljoen, asook R11 miljoen aan spyseniering en vermaak. Die onthulling is tydens parlementêre vrae gemaak.

Die departement van basiese onderwys het R150 miljoen geblaas, waaronder R114 miljoen sedert Mei 2019 vir verblyf.

Aaron Motsoaledi, die Minister van Binnelandse Sake, sê dat sy departement R149 miljoen, waarvan R142 miljoen vir verblyf was, bestee het.

Sy verduideliking was dat die geld betaal was vir parlementêre inligtingsessie, ontplooiing van amptenare na grense en konferensies.

“Die verblyfuitgawes is vir amptelike reise, binnelands en internasionaal,” het hy gesê.

“Hierdie reise is om konferensies, parlementêre inligtingsessies, bilaterale vergaderings, of besoeke aan kantore by te woon en vir grensontplooiing van amptenare na grenslyne gedurende fees-/ Paastydperke.”

Die departement van bosbou, visserye en omgewing het R137 miljoen verkwis en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking R127 miljoen.

Leon Schreiber, die DA-staatsdiens- en administrasiewoordvoerder, is uitgesproke oor die buitensporige besteding deur staatsamptenare.

“Die bedrag wat aan partytjies, aandetes en hotelle bestee word, sal genoeg wees om skoolmaaltye vir 250 000 behoeftige kinders vir hul hele skoolloopbaan van 12 jaar te voorsien,” het City Press vir Schreiber aangehaal.

Schreiber was ook van mening dat die ministers van binnelandse sake, justisie en korrektiewe dienste, eerder die fondse kon gebruik om die finansiële situasies van hul departemente te verbeter.

Schreiber het vroeër vandeesmaand gesê die DA spaar Suid-Afrikaanse belastingbetalers jaarliks ​​tot R39 miljoen nadat hy “onverbiddelike druk” namens die Parlement uitgeoefen het om ’n nuwe reisbeleid vir afgetrede ministers en hul adjunkte aan te neem.

DA-geïnspireerde reisbeleid sluit in die verlaging van gratis vlugte vir staatsamptenare met 75%, geen besigheidsklasvlugte nie, en ‘n vyfjaarlimiet in plaas van ‘n leeftyd van gratis vlugte.

Jaarlikse gratis vlugte vir amptenare en hul gades is ook van 72 tot 12 gesny, en amptenare is slegs geregtig op ekonomiese klas-kaartjies.

Hierdie behoort Suid-Afrikaanse belastingbetalers byna R197 miljoen oor vyf jaar bespaar.

Leave a Reply