Marine Le Pen (foto: Wikipedia)
Wink nuwe wȇreldorde met Le Pen en Kie?
Wyl die Oekraïene-oorlog voortvuur, kan Frankryk se presidensiële verkiesing rigtinggewend wees vir internasionale politiek waarbinne die regse opbloei in Europa en elders wyd weergalm, berig Sonnette Lombaard.
Ses dekades nȧ die Britse premier, Harold Macmillan, se historiese winds of change toespraak in Kaapstad is politieke bestelle wȇreldwyd weer aan die vooraand van verreikende veranderinge. Die opkoms van regse partye in die laaste dekade in Europa bereik Sondag kookpunt wanneer Marine Le Pen met haar derde poging die beste kans nog het om die Franse volk te lei. Sy pak pres. Emmanuel Macron in die eindronde van die presidensiële verkiesing waarvan die uitslag wêreldwyd afgewag word.
‘n Skoksege vir die 53-jarige Le Pen van die verregse National Rally Party kan die groot deurbraak wees waarop die groeiende konserwatiewe flank in die snelveranderde politieke spektrum op die Europese vasteland hoop. Dit kan ingrypende gevolge vir die internasionale politieke landskap hê en die wye opmars van partye aan die regterkant van die politieke spektrum in Europa en elders ‘n reuse-hupstoot gee. En ‘n nuwe fase vir die politieke speelveld sein.
Die golf van nuwe nasionalisme en populisme rol oor die laaste dekade konstant deur Europa en kring met reëlmaat uit. Die groepe identifiseer met Euroskeptisisme en stem oor die gevare van globalisering en immigrasie, veral vanuit Moslemlande, en van multi-kulturele oogmerke en staan die Europese Unie (EU) teen. In Duitsland en Spanje het regse partye gevorder tot sterk opposisiepartye en verregse partye van tien lande vorm ‘n nuwe blok, Identity and Democracy (ID), in die Europese Parlement.
Voorts het populisme se opkoms gesorg dat Brittanje onder leiding van Tory-premier Boris Johnson met die volk se meerderheid Brexit-stem die EU kon groet en oorkant die Atlantiese Oseaan het dit Donald Trump in die Withuis in 2016 gespoel. Dis deel van groeiende verset teen arrogante liberale establishments en fat cats burokrate wat van elders oor agterplaas-sake besluit.
Die oplewing van nasionalisme in Europa herinner aan Macmillan se filosofiese toespraak voor die Suid-Afrikaanse Parlement in Februarie 1960. “The wind of change is blowing through this continent. Whether we like it or not, this growth of national consciousness is a political fact.” Hy het gemaan dat die drang na nasionalisme, ook in Afrika, nie weggewens kan word nie.
Dít het die reeds brandende nasionalistiese vure oral op die vasteland laat vlamvat en die weggebaan vir Afrika-lande se finale losmaak van koloniale bande. Na ‘n maandlange besoek aan Afrika, het die Tory-leier destyds gewaarsku dat die bestaande wêreldorde in gedrang is en dat nasionalisme ondanks nodige samewerking oor grense vir gemeenskaplike doelwitte nie langer onderdruk kan word nie.
Ses dekades later staan Europa voor dieselfde deur met winde van verandering, eweneens gestu deur ‘n sterk nasionalistiese opbloei wat al wyer en sterker deur die kontinent waai. Sondag se presidensiële verkiesing in Frankryk staan sentraal hierin.
Die nasionalistiese bevrydingstryd wêreldwyd is aansteeklik want nadat Afrika in die 1960s begin het om sy koloniale jukke af te gooi, het dit momentum behou en drie dekades later het die eens magtige Sowjet-Unie opgebreek en is Oos-Europa bevry. Dit het diep gekerf in politieke ordes sedert die laaste Wêreldoorlog se einde in 1945. ‘n Verpletterde mensdom het toe, na ses jaar se groot baklei, vrede gesluit. Twee magsblokke het gevolg met die Weste gelei deur Amerika en die Sowjet-Unie met Rusland vooraan. Die Koue Oorlog en Ystergordyn het dié ideologiese kloof gesement met die Berlynse Muur wat die twee, grommende moondhede fisies geskei het.
In die mensdom se strewe na herstel en opbou na WOII was die soeke na bondgenote met gemeenskaplike belange, ook vir groter beskerming en veiligheid vorentoe sterk in visier. Sambreelgroeperings soos die VVO en sy opvolger die VN, die Statebond, Nato en latere EU, asook die Afrika-Unie en G-groeperings vir versterking van ekonomiese bande het gevolg.
Sedertdien is die Berlynse muur fisies afgebreek en het China verrys as ‘n derde wêreldmoondheid en lei lande soos Brasilië en Indië die opkoms van die ontwikkelende wêreld. Die kuberruim het die speelveld verder kom omdolwe en die wereld laat “krimp”. Dit het die ideaal van ‘n globale gemeenskap versterk. Liberale denkwyses het in die 1960s tot o.a. Women’s Lib en die swart bevrydingstryd gelei en bewustheidsbewegings soos groen- en diereregte-organisasies, asook aardverwarming vier hoogty teen die nuwe millennium. Politiek-korrekwees (PC) was die nuwe wagwoord vir sosiaal-aanvaarbaar omgaan met jou mede-mens en omgewing en woorde soos trans, MeToo, cancel culture en woke is hedendaagse omgangstaal.
Kerngebeure op verskeie gebiede laat egter die pendulum “terugswaai” na meer behoudende en konserwatiewe denkrigtings. Aangevuur deur stygende lewenskostes en ekonomiese realiteite, asook ‘n uitkringende immigrante-krisis. Miljoene vlugtelinge uit armer wereldstreke soek daagliks in veral Westerse lande nuwe heenkome, wat oor tyd demografieë verander.
In die VSA het die Hispanic-toestroming gesorg dat Spaans nou in van die deelstate die amptelike taal naas Engels is. Terreuraanvallle weens geloof – en politieke verskille, soos 9/11 en later in Boston het ‘n nuwe patriotiese vuur aangesteek wat regse politieke oogmerke versterk. Ook in Brittanje was daar terreur en het baie Britte se keelvolheid vir buite-inmenging vanuit Brussels oorgekook in die Brexit-stem.Terselfdertyd is onafhanklikheidsversugtinge teen uitgediende Britse heerskappy in die Statebond durend. Prins William en sy Kate se pasafgelope besoek aan die Karribiese eilande het byna in ‘n fiasko ontaard toe plaaslike emosies oorgeborrel het oor Jamaika se planne om koningin Elizabeth as staathoof te verwyder.
Inmiddels het die wêreld se rykste man Elon Musk vandeesweek die “woke mind virus” die skuld gegee vir Netflix se groot verliese. Dié gewilde instromings-datadiens se aandele het gedaal nadat derduisende intekenaars gewaai het. Volgens Musk skeep Netflix sy intekenaars se belange af met sy oormaatklem op woke-kwessies. Musk meen die woke-denkrigting is die grootste gevaar vir die moderne beskawing.
Nêrens anders weerklink die opswaai na nuwe nasionalisme sterker as in Europa nie. Die ryk vasteland het vir lank immigrante van armer wȇrelddele met ope arms verwelkom met die sosialistiese Skandinawiese lande vooraan. Die toestroming van veral Moslems oor die laaste paar dekades het baie Europese lande se bevolkingsprofiele drasties verander. Dis vererger deur die feit dat die tradisionele bevolkingsaanwasse in Europa lank in die rooi is. Dit het tot verset gelei en ‘n groei in regse politiek. Rasspanninge kook juis nou weer oor in verskeie Sweedse stede met planne om die Koran te verbrand, wyl die terroriste-aanvalle in Parys in 2015 nog vars in geheue is. Daar is ook terreur vanuit regse geledere soos in Noorweë in 2011.
Binne die sterk opswaai na regse politieke groeperinge en nasionalisme regoor Europa is Marine Le Pen ‘n vaandeldraer. Gehaat deur die liberale media, is haar politieke opgang in die Franse se tradisionele liberale landskap in die laaste dekade merkwaardig en verklap veel van ‘n vasteland in transito. As jongste dogter van die verregse Franse leier Jean-Marie Le Pen was politiek haar moedersmelk. Sy het haar pa opgevolg as leier van sy party en hom toe in 2015 terstond daaruit geskors oor sy omstrede uitlatings oor o.a. die Nazis se volksmoord.
Le Pen is ‘n uitgeslape strateeg wat haar beste kans nog tegemoet gaan. Na die laaste 2017-verkiesing waarin sy reeds 11 miljoen stemme getrek het, kan dit Sondag uitspeel in die regse golf se grootste politieke sege tot nou in Europa. Sy het haar beleid aangepas en fokus op ekonomiese hervorming en Franse belange eerste, insluitende strenger immigrasiebeheer en ‘n verbod op vroue se dra van die Moslemsluier of hijab in die openbaar in haar tuisland.
Wen of verloor, Le Pen se opgang weerspieȅl genoeg Europeers se keelvolheid vir bestaande liberale ordes. Diepgewortelde en onstuimige nasionalisme rig juis die voortwoedende oorlog in Oekraïene. As die wereld by ‘n soortgelyke kruispad as in die 1960s is, sal Sondag se uitslag in Haanland ‘n beduidende rigtingwyser vir veral nasionalistiese oogmerke oraloor vorentoe wees.