Volgens Mnr. Johan van den Berg, ‘n landbou-weerkundige, kan neerslae selfs oor die westelik en suidelike binneland voorkom.
“Met die huidige neiging van baie swaar reën oor kleiner gebiede is dit moontlik dat veral gedeeltes van die Oos-Kaap rondom 23 en 24 April swaarder reën kan kry,” het Van den Berg gesê.
’n Soortgelyke reeks van gebeure het in 1989 in dieselfde tydperk voorgekom. Oorstromings in KwaZulu-Natal, swaar sneeu neerslae in die Noord-Kaap, windstorms oor die Suidwes- en Suid-Kaap en baie swaar sneeu in die Koue Bokkeveld.
Verskynsels soos die het ook tydens die reeks La Niña-verskynsels van 1973 tot 1976 voorgekom.
As die geskiedenis homself gaan herhaal, kan uitermatige weerstoestande dus in die komende maande verwag word met reën tot einde Mei in die somerreëngebiede, swaar sneeu van einde Mei tot Augustus oor die suidelike dele van die land en baie stormagtige toestande in die winterreëngebiede.