‘n Skoonheidstudent, Amanda Lightfoot, is met ‘n mes gesteek terwyl sy in ‘n geparkeerde motor buite haar kêrel se werk gewag het.
Die voorval het verlede Donderdagmiddag net na 13:00 in Windermererylaan, Farrarmere, Benoni, plaasgevind.
Volgens Kaptein Nomsa Sekele, ‘n woordvoerder van die Benoni SAPD, het hulle inligting ontvang dat die slagoffer in ‘n geparkeerde voertuig buite haar kêrel se werksplek gewag het toe ‘n onbekende persoon haar aangeval het.
‘n Toesighouer by Lightfoot se kêrel se werksplek het hom in kennis gestel dat daar iets fout is buite, waar sy vriendin vir hom in die parkeerterrein wag. Met sy aankoms by haar voertuig het hy Lightfoot met ‘n steekwond gevind.
Haar kêrel en sy oom het haar na ‘n plaaslike hospitaal geneem, maar met haar aankoms is sy dood verklaar.
Daar word vermoed dat die voorval moontlik opportunisties van aard was. ‘n Mes is op die moordtoneel gevind.
Die saak word deur die polisie ondersoek.
Enigiemand met inligting oor hierdie voorval kan Crime Stop by 08600 10111 kontak of die MySAPS-toepassing gebruik. Inligting kan anoniem gegee word.