As deel van die bekamping van onwettige mynbou, het ‘n multi-dissiplinêre span bestaande uit die Dr Kenneth Kaunda Distrik Onwettige Mynspan, Orkney Sigbare Polisiëring en Speurders sowel as Mynreddingspan, 77 onwettige mynwerkers aangekeer tussen 14 en 18 April.
Die operasie volg nadat onwettige mynwerkers die mynbestuur versoek het om hul by te staan om uit die mynskag te kom aangesien hulle honger ly.
Tydens die operasie wat by Skag nr. 5, in Orkney uitgevoer is, is vier ontbinde liggame uit die skag gehaal.
Onder die 77 onwettige mynwerkers is 60 van Lesotho, 13 van Mosambiek en vier van hulle is Zimbabwiese burgers. Intussen is ‘n formele identifikasieproses van die vier ontbinde liggame aan die gang.
Die gearresteerde onwettige mynwerkers sal na verwagting vandag voor die Orkney-landdroshof verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van betreding, onwettige mynbou en oortreding van Artikel 49(1)(a) van die Immigrasiewet, 2002 (Wet No. 13 van 2002).