Skip to main content

“Gee dadelik aan ons mense permitte om wettig te delf vir ‘n beter lewe.”

Hierdie noodkreet is die soveelste een nadat nog drie onwettige delwers by ‘n ou uitgewerkte myn by Nuttaboy tussen Kleinzee en Komaggas in Namakwaland gesterf het.

Die oorledenes is drie Zimbabwiërs, sê Joshua Mudzipuri, ‘n familie-lid wat hulle op die toneel uitgeken het.

Die tonnel het vermoedelik voor agt uur Saterdagaand ingeval.

Die volgende oggend was eers die polisie en toe die forensiese span op die toneel.

Volgens Edmund Steyn Crew, ‘n bekende delwer hier, het ses Zimbabwiers toegeval.

Twee vasgekeerde delwers was net lig beseer en die ander een ongedeerd.

Die drie oorledenes was die broers James Mudzipuri (28), Oria Mudzipuri (26) en Andrew Machona (24), sê Crew.

Kapt Paulus Swartbooi van die Namas sê dat armoede en grootskaalse werkloosheid sulke tragedies veroorsaak.

“Die gemeenskappe soebat al lank vir mynpermitte. Die regering moet hierdie prosesse bespoedig en reguleer sodat delwers nie onnodig aan die dood hoef afgestaan te word nie.”

Dr Izak Fritz, die provinsiale voorsitter van die DA in die Noord-Kaap, sê die DA het al verskeie skrywes aan die Noord-Kaap se premier, LUR’re, asook nasionale ministers, insluitend, Gwede Mantashe (die minister van minerale hulpbronne en energie) gestuur om wettige permitte aan delwers toe te staan.

“Voorheen het persone soos die vorige  adjunk-minister van minerale hulpbronne en energiesake, Godfrey Oliphant, aan die mense van Namakwaland leë beloftes gemaak dat hulle permittte sou kry.”

Volgens hom praat die DA nie onwettige delwery goed nie, maar versoek die ministerie om daadwerklik aandag te gee aan die aansoek om permitte. Hy glo onwettige delwery vind plaas weens swaarkry, werkloosheid en die leë beloftes.

“Ons gaan steeds aanhou om skrywes te stuur aan die betrokke ministers sodat hulle die permitte uitreik aan die delwers van Namakwaland sodat hulle ‘n wettige lewe kan lei.”

Louis Liebenberg, ‘n bekende diamanthandelaar en aktivis vir delwersregte, besit en bedryf ‘n myn naby die rampskag. Volgens hom manipuleer die betrokke minister die uitgee van mynpermitte. Dit veroorsaak ‘n bose kringloop van korrupsie en armoede.

“Die sterftes sal nooit stop nie en intussen bly die Namakwalanders die verloorders wat daagliks verarm.”

Hy glo dat die zama zamas lankal aandag moes kry en dat die eintlike onwettige delwers De Beers- en TransHex-myne is.

Die polisie op Kleinzee het die voorval bevestig, maar kon geen verdere besonderhede verskaf nie.

* In 2021 het verskeie tonnels by Nuttaboy-myn toegeval. Delwers het toe beweer dat verskeie Zimbabwiërs toe hier gesterf het. Tot op hede was net een liggaam gevind en uitgehaal.

3 Comments

Leave a Reply