Skip to main content

ISAAC CLOETE

Die Wes-Kaapse polisie het waarskynlik ‘n vermeende kabeldief net betyds vasgetrek.

Tydens ‘n polisie-operasie by Klawer het hulle Dinsdag ‘n 41-jarige manspassasier gearresteer vir die besit van metaalpype en kabels.

Die taxi was vanaf Springbok op pad na Kaapstad. Hulle was tydens ‘n padblokkade langs die N7 by ‘n weegbrug gestop en deursoek, volgens die polisie-woordvoerder, Ndakhe Gwala.

Aluminium, koperpype en -kabels ter waarde van R50 000 was by die passasier gevind. Alles was gekonfiskeer. Na verwagting sal die beskuldigde Woensdag in die hof op Van Rhynsdorp verskyn.

Intussen is inwoners op Carolusberg buitekant Springbok verheug oor die arrrestasie. Hulle vermoed dat dit van die kabels was wat onlangs hier gesteel was.

Die woonbuurt se inwoners sit al vir ‘n paar dae sonder krag nadat ‘n lang koperkabel Sondag hier gesteel is.

Volgens Rodney Kritzinger, die speaker van die Nama Khoi munisipaliteit, het dit die munisipaliteit ongeveer R500 000 gekos.

“Die gemeenskappe sal moet begin om die kwaaddoeners te help identifiseer. Dit veroorsaak groot ongerief aan die inwoners en is ‘n vorm van terrorisme. Die polisie was ook op die toneel en ‘n kriminele saak is aanhangig gemaak.

“Die was ‘n definitiewe poging om die elektrisiteit af te sny en dit maak dienslewering baie moeilik.”

Volgens die munisipaliteit moes die kabels teen groot koste vanaf Johannesburg na Springbok vervoer word. Dit het veroorsaak dat die inwoners die ongerief langer moes verduur.

Volgens Kritzinger het die diefstal veroorsaak dat die rioolstelsel na woonbuurte ook geaffekteer was. Hy het ook genoem dat kabels by die tennis- en muurbalbane gesteel is.

“Ons weet nog nie, maar ons vermoed dat die kabels wat by die kwaaddoener gekry is, wel die van ons munisipaliteit kan wees.”

Die burgemeester, dr Gustav Bock, het ook ‘n pleidooi gelewer dat inwoners skouer aan die wiel moet sit om die vandalisme te stop.

“Die munisipalitiet verloor jaarliks miljoene rande weens vandalisme. Die gesteelde infrastruktuur soos pype en kragkabels word teen ‘n appel en ‘n ei verkoop op skrootwerwe.

Leave a Reply