Luisens berigte is daar al ten minste 45 mense dood weens die swaar reën wat in en om Durban, Kwazulu-Natal, geval het.
Die buitengewone vloede het groot skade aan paaie en infrastruktuur veroorsaak. Huise is erg beskadig of in geheel vernietig, en oral was foto’s op sosiale media rondgestuur oor voertuie wat óf neus eerste in sinkgate as gevolg van die vloede is, óf heeltemal onder water lê.
‘n Swaar reënval van tussen 180 mm en 310 mm is in hierdie gebied aangeteken.
Die DA wil hê dat die regering KwaZulu-Natal tot ‘n rampsone verklaar. Volgens die DA is die munisipaliteite se rampbestuur nie opgewasse vir die uitdaging wat voorlê nie.
“Gegewe die huidige toestande, versoek die DA die premier om by die nasionale rampsentrum aan te beveel dat KZN tot rampgebied verklaar word,” het die DA se Martin Meyer vroeër gesê.
Nóg reën word in hierdie gebied asook die Oos-Kaap verwag.
“Ná ’n naweek van wydverspreide reënval oor ’n groot deel van die land die afgelope naweek, het die drukstelsel wat verantwoordelik is vir die gure weer oornag ooswaarts oor KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap begin beweeg,” het die Suid-Afrikaanse Weerdiens in ’n verklaring gesê.