Skip to main content

ISAAC CLOETE

Nog ‘n pa moet lewenslank tronk toe gaan vir verkragting van sy eie dogter.

Die buitelandse burger is Vrydag in die streekshof op Port Nolloth tot lewenslange tronkstraf gevonnis omdat hy sy biologiese dogter oor ‘n tydperk verkrag het.

Volgens luit-kol Sergio Kock, ‘n polisiewoordvoerder, het die voorvalle gebeur toe die dogtertjie slegs nege jaar oud was. Eers vyf jaar later, in 2020, het sy by die polisie gaan kla oor die voorvalle. Sy was toe 14 jaar oud.

‘n Dag na die klagtes was die pa, afkomstig van Kameroen, gearresteer. Hy was in aanhouding tot Vrydag toe hy gevonnis is.

Die buitelander was getroud met ‘n plaaslike vrou op Port Nolloth.

Nadat sy gesterf het, het hy begin om sy dogtertjie (toe nege jaar) te verkrag, is aan die hof vertel.

Die landdros het hom tot ‘n verdere tien jaar tronkstraf gevonnis vir seksuele aanranding.

Sy naam sal ook in die nasionale register vir seksuele oortreders gevoeg word.

Verder is hy onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.

Die gemeenskap was oor die algemeen tevrede met die vonnis. Baie het egter gevoel dat die oortreder eerder die doodstraf moes gekry het. Ander voel ook dat die dogtertjie nou alle support moet kry, insluitend langdurige professionele berading.

Die aanklaer was Basil “Die Jaguar” Kock en die ondersoekbebeampte was speursersant Fransisca Louw van die gesinsgeweld-, kinderbeskermings- en geslagsmisdaadeenheid op Port Nolloth.

Intussen het die provinsiale hoof van die gesinsgeweld-, kinderbeskermings- en geslagsmisdaadeenheid in die Noord-Kaap, brig Nicky Mills, vir Louw geloof vir haar harde en onverpoosde werk om die verkragter-pa vas te trek en te laat vonnis.

Leave a Reply