ISAAC CLOETE
Trane vloei weereens vrylik nadat ‘n uitgewerkte myn op nog ‘n delwer ingestort het.
Die voorval het Sondagaand teen skemerte by die Tweepad-diamantmyn naby Port Nolloth plaasgevind. Volgens mede-delwers het die myn op die oorledene, Henry “Mannetjie” Winclair, ingeval.
Een delwer wat saam met hom was, het anoniem vertel dat hy lucky was om te oorleef. Hy het gesê: “Ons was ook in die myn. Ek het egter daai tyd uit die gat gekom. Mannetjie en ‘n ander ou het hierna in dié gat gegaan. Die een ou met die jackhammer het dit teen die dak van die tonnel gedruk. ‘n Stuk rots het toe losgeraak en die hele tonnel het inmekaargesak.”
Volgens dié delwer het hy betyds uitgekom. Hulle moes vir Mannetjie probeer uitgrawe onder die sand en klippers. Mannetjie het darem die huis gehaal, maar later gesterwe.
Die oorledene se seun, Maxwell Maxii, het hartseer vertel dat hulle ook op pad na die myn by Tweepad was. Voor hulle kon gaan delf, het hulle die tyding van sy pa gekry.
“Ons het vir ons vervoer na die myn gewag. Die vervoer het egter eers my pa na die myn geneem. Daarom moes ons wag.”
Volgens die stasiebevelvoerder by Port Nolloth-polisiestasie, luit/kol Patrick Moyo, het die sekuriteitshoof, Thinus Fischer, asook familielede die polisie oor die voorval ingelig.
“Dit was al donker en daarom kon ons nie die toneel besoek nie. Ons was wel by die hospitaal om te bevestig dat die man gesterf het. Ons het ook verneem dat van die ander persone by die myn die oorledene losgegrou en uitgegrawe het.”
Intussen kla die delwers hier dat hulle baie sukkel en net kos op die tafel wil plaas. Sulke voorvalle, glo hulle, is deel van die lewe, maar hulle het nie ‘n keuse as om te gaan delf nie.
Namakwalandse delwers sukkel al jare om mynpermitte te kry. Terwyl hulle hiervoor wag gaan delf hulle sonder toestemming van die regering af.
* Tydens ‘n vorige mynramp in Oktober verlede jaar was verskeie delwers by Nuttaboy-diamantmyn vasgekeer na ‘n ineenstorting. Tot op hede weet niemand hoeveel persone werklik daar gesterf het nie.
* In Mei 2012 was ongeveer 26 delwers by Boentekoe-myn toegeval. Reddingspanne van die Black Mountain-myn by Aggeneys kon later 10 lyke na die oppervlakte bring.