Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het deursoeking en beslagleggings by die huise van individuele belastingbetalers gedoen. Dié mense werk in die goudbedryf en bankwese.
Dit volg na oudits en ondersoeke na onwettige finansiële vloei asook onwettige handel in goud, sigarette, klere en alkohol asook ander tabakprodukte, het die inkomstediens gesê.
“Die doel van hierdie ingrypings is tweeledig: eerstens help dit die SAID met sy verifikasieprosesse vir belastingnakoming en die identifisering van inligting wat sulke oudits kan ondersteun. Tweedens kan die SAID die bewyse wat reeds tot sy beskikking is, staaf vir potensiële strafregtelike verrigtinge.
“Hierdie ingrypings is begin nadat moontlike teenstrydighede geïdentifiseer is in doeane-verklarings en belastingopgawes wat met sulke entiteite verband hou, asook bankstate waarop nie staatgemaak kon word nie.”
Een so ‘n perseel wat deursoek was, is dié van Bullion Star, ‘n goudraffinadery wat beskik oor die fasiliteite om minerale te omskep in ‘n hoërwaarde produk, wat plaaslik verkoop of uitgevoer kan word. Bullion Star is ‘n geregistreerde uitvoerder.