Die Suid-Afrikaanse Reserwebank, in samewerking met die Intergovernmental Fintech Working Group, het vandeesweek ‘n tweede verslag vrygestel wat kyk na die gebruik van verspreide grootboek-tegnologie vir interbankbetalingsvereffening, wat dit ‘n stap nader aan ‘n nasionale kripto-geldeenheid neem.
Projek Khokha 2 is net meer as ‘n jaar gelede, in Februarie 2021, van stapel gestuur en die deelnemende finansiële instellings was Absa, FirstRand, Nedbank, Standard Bank en die JSE. Terwyl wêreldwye finansiële stelsels geleidelik gevorder het oor die afgelope 50 jaar en van fisiese grootboeke na digitale grootboeke beweeg het, is die volgende stap simbolisering – waar verskillende tradisionele bates soos geld en sekuriteite as simbole (‘tokens’) op verspreide grootboektegnologie (DLT)-platforms voorgestel word. Een van die gewildste toepassings wat met DLT-platforms geassosieer word, is blokkettingtegnologie, wat kripto-geldeenhede soos bitcoin en ethereum huisves, skryf Neesa Moodly vir Daily Maverick.
“Verskeie sentrale banke ondersoek die lewensvatbaarheid van gesimboliseerde sentrale bankgeld in finansiële markte. Sulke eksplorasie is belangrik gegewe die groei in tegnologiese innovasie en die gebruik van nuwe vorme van betalingsinstruksies,” sê Lesetja Kganyago, die goewerneur van die SA Reserwebank.