Minstens twee mense is dood en agt ander beseer in ‘n skietaanval waarin ‘n gewapende man mense gisteraand in Dizengoffstraat in die middel van Tel Aviv aangeval het, het die plaaslike media berig. Die area is ‘n gewilde toneel vol restaurante en kroeë.
Volgens die Sourasky Mediese Sentrum is minstens vier mense in ‘n kritieke of ernstige toestand. Video’s wat op sosiale media versprei is, het die nasleep van die aanval gewys, waar gesien kan word hoe mense tussen die omgekeerde tafels in een van die buitekafees ronddwaal terwyl nooddienste beseerdes na ‘n hospitaal jaag.
Die gewapende man is steeds soek en Israeliese veiligheidsmagte het die publiek gevra om tuis te bly en die strate te verlaat terwyl hulle voortgaan om die gebied te deursoek. Die voorval blyk ‘n “nasionalisties gemotiveerde” aanval te wees, het die Times of Israel berig.