Dr Jo-Mari Nel
ISAAC CLOETE
Dis altyd mooi as iemand na sy wortels terugkeer, al is dit met ‘n stowwerige ompad.
Dr Jo-Mari Nel is ‘n skrywer vanuit die Richtersveld wat haar boek, Stof van die Richtersveld.(‘n kortverhaalbundel oor Legende, Tradisie en Kultuur -1930 tot 1995), op 16 April gaan bekendstel. Dit gaan op Eksteenfontein, haar geboortedorp, plaasvind.
Die verhale het Nel by inwoners van die omgewing gehoor toe sy as kind hier gewoon het.
Van die vroegste tye af was die Richtersveld die woongebied van die Nama’s. Gedurende 1949 het ongeveer 100 blanke en blankgemengde (Bo-sluisbasters) gesinne vanuit die Boesmanland hier kom woon om te boer. So het dorpies soos Eksteenfontein, Lekkersing, Khuboes en Sanddrift ontstaan. Die Bo-sluisbasters het later met die Namas gemeng en ondertrouery het plaasgevind. So het Afrikaans en Nama dus ook vermeng met mekaar geword.
Die bundel kortverhale is fiktief en speel af tussen 1930 tot rondom die 1990’s. Gedurende dié periode was daar geen elektrisiteit in die Richtersveld nie. Dus moes die aande omgekry word met hierdie unieke vertellings rondom ‘n kampvuur of dowwe kerslig.
Volgens Volentie van der Westhuizen, ‘n gemeenskapsnavorser van Eksteenfontein, is Nel ‘n boorling en ‘n lam van die Richtersveld. Iemand wat die bygelofies, tradisies, taalvariant en kultuurgoed saamvoeg en meng tot ‘n unieke lekkerlees ekspedisie.
Stories oor die legendariese en mitologiese waterslang sal byvoorbeeld groot aankklank vind by die ouer garde, maar ook die jonger geslag, volgens Van der Westhuizen.
Clazinus van Rotte van Leiden in Nederland skryf in haar resensie dat Nel goed daarin geslaag het om die omgewing en landskap op ‘n poëtiese wyse te “verlewendig”.
“Die debuutbundel is ‘n ode aan die Richtersvelders, hul taal en kultuur. En dit is ook ‘n huldeblyk aan die vrouens van die omgewing. Vrouens wat die moeilike lewe en omstandighede makliker as mans kon hanteer en dit steeds doen.
Nel het trots vertel dat sy baie lief is vir die Basters. Sy is self een, wat hulle tradisies en gebruike nog getrou volg. Tans woon sy in Rondebosh, Kaapstad en werk sedert 2011 in die parlement se taal-afdeling.
“Ek is die eerste PhD van die Richtersveld, die eerste vroulike een ook, en ek is ook die eerste outeur vanaf die Richtersveld wat oor die Richtersveld skryf.
“Dit het my 12 jaar geneem om hierdie boek te skryf en die jare wat ek my PhD gedoen het, is nie bygetel nie.”
Volgens Nel gaan sy R5 700 se boeke-skenking maak aan die Stephen Malherbe Laerskool (NGK/VGK) op Eksteenfontein, waar sy haar eerste opstelletjie geskryf het.
Die Nama-hoofvrou gaan die boekbekendstelling eers inseën, soos altyd, het Nel ten slotte vertel.
Die boek kos R230 en kan by haar bestel word.