SONNETTE LOMBAARD
De-Bra is nie blond of ‘n blondine nie. Passievol, pienk, parmantig en plesierig ploeg sy voort op die pionierspoor van ons dapper oumas wat borstrokke en al, berge oor is. Om juis die weg te baan vir toekomstige Afrikaanse Annas soos sy wat die vasteland verder en ewe eva-avontuurlik wil omspit.
Trots gestik uit ons vroulike voorsate, gryp die begaafd-bedeelde De-Bra haar kollig-kans en span haar verkenningsgees met Oos-Randse oemf in om ons vaandeldraerslaslap vernuftig en vars te versier. Sy is ‘n jong bokkie in jaartal en gees maar met ‘n ou, g’n-nonsies-siel. Gebore – met die helm – in grendeltyd is sy ‘n straatwyse eva wat van alle dinge wis en met voor-op-wa bekkigheid haar in enige situasie kan in- of uitpraat. Tot groot genot van die lesers wat haar nog ken nie, en in die splinternuwe boek My tjom DE-BRA kan ontmoet.
De-Bra se kaskenades word onderhoudend uitgelap deur haar meer inkennige, “ek-hou-nie-van-mense nie” boesemvriendin en vertroueling, wat ook die naamlose en gevatte verteller van die 32 stories in die boek is. Oos-Randers weet mos: dit vat een om ‘n ander een te eien en so sekuur weer te gee! Die verteller is die joernalis/skrywer Sonja Brown. Sy is redaksielid van Die Waarheid koerant en haar boek is gepas die debuut-publikasie van die Waarheid se nuwe uitgewery, bekend as Die Waarheid Boeke.
Brown, ’n middeljarige ma en ouma, is boorling van Primrose in Germiston en woon en werk steeds aan die Oos-Rand. Soos baie ander nuwe talent het sosiale media katalisator gespeel om De-Bra haar kans op roem te gee. Brown deel sedert Julie 2021 haar stuitige stories oor haar alter ego op Facebook. Dit was gou gewild met wye aanklank by oud en jonk. Brown dra ook die boek op aan haar eie ma wat, sy verklap, aanhou kerm vir die volgende aflewering van De-Bra.
Verstaanbaar, want die pienkkop-dolla se onopgesmukte stofasie skitter eg, gevorm uit die befaamde Oos-Randse mynstowwe. Geensins op haar bek of plek geval nie, borrel en blom De-Bra se bravades en spitsvondighede bladsy vir bladsy. Die twee geestige ‘sistas’ se wedervaringe van ‘n “Johnny op ys” in die UFO restaurant net duskant Carnival City tot Kenia se spierwitstrande speel lewendig voor jou geestesoog af en sleur jou enduit saam. Prettige penaries en petaljes waarin De-Bra blitsig vasgekoek word en die verteller moet haar red. Dit draai van haarsalon-eskapades, die loopplank, genotgrotte, stuitige buurmanne, kaallyf-kuns en “hupse ou mans” tot noodhulpklasse, ‘n muskeljaatkat se boomstreke en skreeusnaakse skoolreünies.
Alter ego’s as kreatiewe uitlaatklep bied nog altyd vir kunstenaars groter spasie om wyer te waag en te woel. Dink aan David Bowie se Ziggy Stardust, Sacha Baron Cohen se Dr Ali – en Borat-karakters en ons eie Pieter-Dirk Uys se Evita Bezuidenhout. Literȇre geeste soos Ernest Hemingway (Nick Adams) en Charles Bukowski (Henry Chinaski), Will Cather (Jim Burden) en Sylvia Plath (Esther Greenwood) het ook laat waai met alter ego’s.
Een mens met twee persoonlikhede is fyn vermaakkuns en om dit oortuigend te verkoop sit nie in enige San en Jan se broek nie. Brown het duidelik ‘n begaafde verbeelding met vrye teuels. Haar skerp vertelhumor is nie platvloers nie maar tong-in-die-kies spot (en fyn selfspot) en sy dis dit lig en lekker op en bly getrou aan haar roots – tussendeur die lawwighede oor alledaagse avontuurlikhede kaats dit veel van ons volkie en veral tuishumor om, wel, dinge draaglik te hou. Mens wil al wens De-Bra wil kordaat opruk Parlementshuis toe om daai Malema-mannetjie te gaan wys waar eva haar wortels begrawe…
De-Bra is ‘n welkome toevoeging tot die genre en Brown spit saam met haar bekkige alter ego nuwe grond om in die plaaslike vermaakveld. En breek ‘n lansie vir haar geslag. Sy dra juis die boek ook op aan “ …al die dames wat moet konformeer volgens norme en standaarde, maar eintlik graag wil rebelleer teen reëls en regulasies … wat deur die eeue heen op hulle afgedwing word”.
Met My tjom DE-BRA word eie stempel afgedruk in ‘n leesplesier en geen heilige koeie word saamgevat of gespaar nie. Die hoop beskaam nie dat die jonger geslag Afrikaanse filmmakers in ons land hierdie delightful dolla as volksjuweel sal raakeien en dit verder neem na die kleinkassie en/of grootskerm. De-Bra is g’n muublommetjie en kan nie tussen boekblaaie ingedruk word nie. Sulke papierplesierighede verdien vlerke …
- Sonja Brown skryf artikels, redenaarstoesprake, kortverhale, gedigte, romans, tienerboeke en kinderboeke in Afrikaans en Engels. Sy is ook spookskrywer van faam, wat o.a. die boek oor die Krugersdorp-moorde onder die naam Marizka Coetzer gepen het. Haar skrywery het ontstaan as enkelma van drie kinders wie sy moes vermaak. Haar vier kleinkinders hou nou hul storie-ouma op haar tone.