ISAAC CLOETE
Ten spyte van die kille pandemie en koue ekonomie is daar tog warm nuus in die mynbou.
Veral in die Noord-Kaap heers daar groot uitbundigheid nadat Vedanta Zink International (VZI) aangekondig het dat hulle R7 biljoen gaan belê by hul Gamsberg sinkmyn naby Aggeneys.
Met dié belegging gaan hulle onmiddellik begin met fase twee. Die kontruksie hiervan behoort binne 22 maande klaar te wees, volgens Pushpender Singla, die CFO en uitvoerende direkteur.
“In dié tydperk sal 2 000 – 2 500 werksgeleentede geskep word. Ongeveer 1 000 permanente werksgeleenthede sal dan volg.”
Teen die einde van 2023 of vroeg in 2024 sal die kapasteit van die myn van 4 miljoen tot 8 miljoen ton sink-erts per jaar verhoog word. Dit sal dan die grootste sinkprodusent in Afrika wees, volgens hom.
Die ontwikkeling is deel van die Namakwa Special Economic Zone (NSEZ), wat die regering binnekort gaan bekragtig. In Maart 2019 het president Cyril Ramaphosa die eerste fase van die myn amptelik geopen. Hiertydens was toe bekend gemaak dat die totale projek R21 biljoen sou kos.
Sover was R12 bilj al belê, buiten die R7biljoen. Tans is daar 2 700 permanente werkers by Gamsberg, volgens Singla.
Die aankondiging was baie goeie nuus vir dr Zamani Saul, die premier van die Noord-Kaap. Hy het die geleentheid Woensdag by Gamsberg bygewoon.
GM Du Toit (Kolmans Studios) het die lugfotografie van die Gamsbergprojek in die laat 80’s gedoen en behartig.
“Dit was eers net ‘n toekomsvisie wat nou na jare bewaarheid geword het. En dit laat my goed voel.”
Intussen hoop inwoners van die groter Springbok-area dat hulle hierdie keer die “binnevet van die boud” sal geniet. Anders as by soortgelyke groot projekte.
Kapt Paul Swartbooi van die Namas voel dat die projek goed is. Hy voel egter dat die jeug voordeel hieruit moet trek.
“Hulle moet nie net tools aandra nie, maar moet ook opgelei word in vele velde wat hulle gemeenskappe sal bevoordeel.”