Danileigh met JP White – Swaartekrag
Soms word van die land se mees talentvolle kunstenaars as voorsangers by hulle onderskeie kerke ingespan en nie-gemeentelede kry nie die voorreg om aan dié nuwe sterre in die Afrikaanse musiekruim blootgestel te word nie.
Danileigh is een van dáárdie sangeresse wat met haar hemelse stem selfs die engele laat huil, maar wat hoofsaaklik as aanbiddingsleier in haar kerk opgetree het. Nou het sy egter besluit om ook haar stem met die publiek te deel en die resultaat is Swaartekrag – ‘n volwasse kontemporêre snit wat goed deur plaaslike radiostasies ontvang is.
Dié liedjie, wat ook uit haar pen verskyn het, is ligweg op Esegiël 47 gegrond, maar dit is nie ’n gospelliedjie nie. “Die liedjie handel oor die liefde,” vertel sy. “Toe ek Swaartekrag geskryf het, het die verhaal in Esegiël 47 in my kop gedraai. Ek wou ’n liedjie skryf waarin die verhaal se boodskap op ’n ander manier – as ’n liefdesboodskap – oorgedra word. Die liedjie is vir almal geskryf en nie net vir kerkgangers nie.”
“Ek het vir myself gevra wat die liefde vir my beteken en ek kon nie anders as om die liefde te vergelyk met my verhouding met die Here nie. Dit is ook die boodskap wat ek aan die wêreld wil gee: dat liefde ’n onweerstaanbare krag is.”