’n Egpaar is by hul huis in die Vaalbank-Zuid-hoewegebied naby Bloemfontein aangeval en beroof nadat hulle Saterdagaand ongeveer 20:30 tuis gekom het.
Die 73-jarige man is buite by die hek aangeval en sy 58-jarige vrou is daarna in die huis oorval.
Volgens Lt.kol. Thabo Covane, ‘n polisiewoordvoerder, is die vrou deur ’n man wat ’n blou oorpak met ’n masker en wit handskoene aangehad het, oorval. “Sy is met ’n mes gedreig en deur die verdagte aangerand. Sy het ’n rumoer buite gehoor en besef dat haar man in die moeilikheid is.”
Die verdagtes het die vrou gedwing om geld vanuit haar bankrekening na ’n ander bankrekening oor te plaas waarna hulle met kontant en bankkaarte van die toneel gevlug het.
Die egpaar het alarm gemaak en buurtwaglede het dadelik daarop gereageer. Een van die verdagtes het ’n besering aan sy bors opgedoen nadat die vrou teruggeveg het. Die man en vrou is per ambulans na ʼn hospitaal geneem vir mediese behandeling.
Lede van die Mangaung-triotaakspan en Navalsig-polisie het ’n soektog na die verdagtes van stapel gestuur. ’n Saak van huisroof word deur die Navalsig-polisie ondersoek.
Enigiemand met inligting oor die voorval kan Sers. Kendrick Barnes op 082 466 7255 of Stop Misdaad op 08600 10111 kontak.