Skip to main content

’n Voormalige Telkom-werknemer word deur die maatskappy gedagvaar nadat hy daarvan beskuldig word dat hy inligting aan ‘n mededinger verkoop het.

Die voormalige werknemer word vir meer as R200 miljoen gedagvaar en sy pensioen is gevries totdat die siviele saak afgehandel is.

Telkom voer in ‘n siviele verhoor aan dat Andrew Johannes Jacobs inligting aan die maatskappy se mededingers verkoop het. Jacobs het in 2012 bedank voor ‘n interne dissiplinêre verhoor kon plaasvind, berig GroundUp.

Jacobs het by die Pretoriase hooggeregshof aansoek gedoen om sy pensioen vry te stel. Hy het gesê sy familie kry finansieël swaar weens ‘n “buitensporige vertraging” in verrigtinge teen hom.

Telkom het ‘n teenaansoek geloods waarin gevra word vir ‘n tussentydse interdik wat die uitbetaling van die pensioengeld verhoed totdat die siviele saak afgehandel is.

Regter Ronel Tolmay het verlede week die tussentydse interdik toegestaan.

“Dit is duidelik dat indien die gelde aan Jacobs betaal word, hy, volgens sy eie weergawe, sy bestaande finansiële verpligtinge sal probeer nakom wat Telkom op sy beurt geen kans sal gee om enigiets te verhaal nie. Enige vonnis teen hom sal geen waarde hê nie.

“Die betwiste getuienis is ernstig en potensieel krimineel. Gevolglik is ek van mening dat dit in die belang van geregtigheid is om die interdik toe te staan.”

Leave a Reply