Skip to main content

Die provinsiale kommissaris van die SAPD in Mpumalanga, luitenant-generaal Semakaleng Daphney Manamela het ‘n beroep gedoen op drankbesigheidseienaars om binne die omvang van die wet op te tree en dit ook ‘n punt maak dat hul klante nie gewapen is wanneer hulle daar aandoen nie.

Dìt te midde van ‘n voorval waarin ‘n gewapende man na bewering in die vroeë oggendure Maandag amok gemaak het by ‘n taverne naby Hazyview waar hy na bewering drie mense geskiet het. Een is op slag dood en die ander twee is hospitaal toe geneem nadat hulle ‘n beserings opgedoen het.

‘n Stryery het omstreeks 06:30 tussen vier mans in ‘n taverne by Shabalala Trust (Hazyview-area) uitgebreek. Een van die mans het glo skote op die drie mans afgevuur en twee voertuie, ‘n VW Golf en ‘n Isuzu-bakkie aan die brand gesteek, voordat hy van die toneel gevlug het.

Die polisie het ’n moordsaak geopen met twee aanklagte van poging tot moord en brandstigting. ’n Soektog is intussen na die verdagte van stapel gestuur. Deel van die ondersoek sal wees om vas te stel of die eienaar van die drankwinkel dit regmatig bedryf het.

Die polisie doen ‘n beroep op enigiemand met inligting oor waar die verdagte is om die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 te skakel. Andersins kan lede van die publiek inligting via MYSAPSAPP stuur. Alle inligting wat ontvang word, sal as vertroulik hanteer word en mense kan kies om anoniem te bly.

Leave a Reply