Skip to main content

Die regering het kennis geneem van (en verwelkom) Moody’s se besluit om Suid-Afrika se langtermyn-skuldgraderings in buitelandse en plaaslike geldeenhede op ‘Ba2’ te bevestig en die vooruitsig na stabiel van negatief te hersien.

Die Nasionale Tesourie het Vrydag gesê volgens Moody’s is die sleutelaandrywer agter die besluit om die vooruitsig na stabiel te verander die verbeterde fiskale vooruitsigte wat die waarskynlikheid verhoog dat die regering se skuldlas oor die mediumtermyn sal stabiliseer.

“Daarbenewens het die regering oor die afgelope twee fiskale jare getoon dat hy in staat was om sy besteding te herprioritiseer terwyl hy verbind bly tot fiskale konsolidasie, wat Moody’s verwag vorentoe die geval sal bly.

“Die regering se onwrikbare verbintenis tot die herstel van volhoubaarheid in openbare finansies word ondersteun deur beter-as-verwagte inkomste-invordering,” het die tesourie in ‘n verklaring gesê.

Die departement het gesê dat, soos vermeld in die 2021 Mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring (MTBPS) en 2022-begroting, die regering ‘n gedeelte van die bykomende inkomste gebruik om skuldstabilisering te versnel, met die meerderheid daarop gemik om dringende maatskaplike behoeftes aan te spreek, werkskepping te bevorder deur die presidensiële indiensnemingsinisiatief, en die openbare gesondheidsektor te ondersteun.

“Vinniger implementering van ekonomiese en [staatsbeheerde maatskappye] SOC-hervormings, gepaardgaande met fiskale konsolidasie om ‘n stabiele grondslag vir groei te bied, sal beleggers se kommer verlig, en ‘n vinniger herstel en hoër vlakke van ekonomiese groei ondersteun,” het die tesourie bygevoeg.

Leave a Reply