Boxer Cash and Carry in Sundumbili in Kwazulu Natal was in rep en roer nadat ses gewapende mans gister die personeel gyselaar gehou het.
Die polisietaakspan, K9-eenheid en private sekuriteitsbeamptes het die gebou omsingel maar die rowers het op ‘n onverklaarbare wyse ontsnap.
Brig Jay Naicker, die polisiewoordvoerder in KwaZulu-Natal, sê die Sundumbili-polisie is vroeg-oggend na ‘n gewapende rooftog by die supermark ontbied.
“Daar word beweer dat, terwyl personeellede vanoggend vir werk opgedaag het, hulle deur ‘n groep van sowat ses mans, gewapen met gewere en pistole, aangehou is. Hulle het sewe van die personeellede in ‘n koelstoorfasiliteit ingedwing. Hierdie personeellede het daarin geslaag om hulself te bevry en het ontsnap nadat die polisie opgedaag het.”
Beamptes van die spesiale taakspan, taktiese reaksiespan en ander spesialiste het die gebou gefynkam op soek na die rowers.
“Hulle het nog drie personeellede gevind wat in die gebou weggekruip het. Hulle is nie beseer nie en is deur die polisie vrygelaat. Die polisie soek steeds na die gewapende mans,” het Naicker gesê.