Die uiters gewilde Suid-Afrikaanse gestremde sanger, Dion Williamson, is Saterdag in die ouderdom van 68 oorlede.
“Hy het kanker van die slukderm, pankreas en long gehad. Dit is hartverskeurend,” sê sy voormalige bestuurder, Ria van Wyk, van Star Dust Productions.
“Ek het sy loopbaan bestuur voordat hy omtrent sewe jaar gelede Margate toe verhuis het,” sê Ria. “My orkes, Virtue Show Band, was sy backing band. Ons het ongelooflike tye saam beleef.”
Die radio-omroeper, Marius de Vos van AFM Mense, sou baie ver moes soek om ‘n kragtiger, suiwerder, meer passievolle stem as syne te kry.
Volgens hom het Williamson ‘n reuse, dog meerendeels onbekende bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gemaak.
Hy vertel dat hy aan die begin van die tagtigs as jong polisieman graag by die Ambassador Hotel in Hillbrow gaan kuier het. “Dis waar ek Dion destyds ontmoet het. Ek was uitgeboul deur sy persoonlikheid en sy menswees.”
“Rus in vrede, Dion. Jy was ‘n absolute ster. Geniet nou die gebruik van jou volle arms by ons Vader,” se De Vos.