Skip to main content

Breinafasie maak Bruce stil 

Taal is deel van die enigmatiese brein wat ons uniek mens maak. Kry dit seer, kring dit wyd, soos nou weer bewys met die skok-uittrede van Bruce Willis weens ‘n progressiewe breinsiekte.

Sonnette Lombaard berig.

Een van ons planeet se geliefste akteurs se stem is skielik stom. Bruce Willis se uittrede weens ‘n verlammende breinsiekte wat sy spraak en kognitiewe vermoȅns aantas, bevestig taalverlies kan enigeen op enige ouderdom tref. As ‘n tawwe tienie met ‘n minsame en veelsydige aanslag, het hy vanuit Hollywood beroemd, skatryk en grensloos gewild onder oud en jonk geword. Sy (latere) bekende kaalkop en kwinkslae is geliefd van die verhoog na die kleinkassie en grootdoek. Boonop kan Bruce (67) ook minsaam sing en het sukses onder die naam Bruno behaal.

Of eerder kon, want sy vermaakstem is nou grootliks gesnoer. Sy eksvrou, die aktrise Demi Moore saam met wie hy drie volwasse dogters het, het op sosiale media bekendgemaak dat Bruce uittree nadat hy met ‘n degeneratiewe breinsiekte gediagnoseer is. Dit tas sy kognitiewe vermoëns, insluitende taalvaardighede – bekend as afasie – aan. Demi het nie verklap watter breinsiekte Bruce het nie maar het geskryf hulle staan as familie saam om hom in die traumatyd te ondersteun. Dit sluit sy tweede vrou Emma en hul twee dogters in.

Bruce is nie die eerste bekende wat ook in die openbaar met die nare gevolge van ‘n breinbesering of breinsiekte en taalafasie moet stoei nie. Die blonde bom Sharon Stone van Basic Instinct-faam, en die eertydse Bondmeisie Maryam d’Abo het lewensbedreigende breinaneurismes oorleef, asook die musiekmaestro Quincy Jones en Britse aktrise Emilia Clarke wat by die dood omgedraai het met twee aneurismes wyl sy aan Game of Thrones gewerk het. Hulle het al uitvoerig gedeel, in boeke en onderhoude, oor hoe intens kognitiewe skade en taalverliese hul lewens en loopbane raak en hulle as breinbeseerdes moes aanpas.

Die sterre met eina breine is deel van bykans 70 miljoen mense van alle ouderdomme wȇreldwyd wat jaarliks traumatiese breintrama beleef en daarna met o.a. versteurde taalvermoëns vir die res van hul lewens moet saamleef.

Kenners beskou juis taalverlies as die uitdagendste nagevolg van ‘n brein wat weens siekte of trauma seerkry.

Maar hoe is taal en die brein verbind en wat is taalafasie?

Taal is deel van ons belangrike kognitiewe funksies en speel ‘n sentrale rol in die mensbrein. Deurlopend in interaksie met ‘n magdom neurale netwerke, vuur dit ons intellektuele en kreatiewe vermoëns en prosesseer taal. Sonder taalvaardighede kan ons nie tussen verskillende kleure, reuke en musieknote onderskei, idees vorm, beplan, oplossings en gepaste emosies vind, of onthou en prioritiseer nie. Dis kern vir instel van ons morele kompas.

As ‘n buigsame stelsel met simbole waarmee ons dus idees, denke en gevoelens betekenisvol kommunikeer, is taal ‘n lewendige medium, met eindelose nuutskeppings. Links- of regshandigheid bepaal waar die brein taalvaardighede stoor. Vir die 97% regshandiges is dit in die linker-hemisfeer en andersom vir linkshandiges. Die brein stoor tweede en meer tale op verskillende plekke.

Afasie is ‘n taalafwyking na breintrauma. Omdat taal baie breinareas betrek, neem die herwin van taalvaardighede die langste na breintrauma. Praat is deel van ‘n komplekse breinstelsel, wat ook bepaal word deur waar ons tong sit en hoe ons asemhaal. Daarom is slukprobleme ook dikwels ‘n nagevolg wanneer die brein seerkry.

Kommunikasie-probleme nadat die brein se taalsentrums beskadig is, verskil en wissel in grade vir praat, verstaan, lees en skryf, of in kombinasies daarvan, verduidelik Sulice Pietersen, ‘n spraakterapeut van Pretoria.

Sy werk daagliks met die rehabilitering van breinbeseerdes wat breinskade het weens onder meer beroertes, aneurismes, breingewasse en neurologiese siektes soos Alzheimers en Parkinsons.

Die drie hoofgroepe van taalversteurings of afasie is: globale afasie – taal verdwyn; geen funksionele kommunikasie en niks word verstaan of kan weergegee word nie. Dis ekstreme afasie, dikwels direk na breintrauma.

Broca-afasie – jy kan jou nie uitdruk nie maar al beter verstaan. Na hospitalisasie help rehabilitasiesentrums baie pasiënte hiermee.

Wernicke-afasie – spraak is vlot maar verstaan ontbreek en lei tot onsamehangende brabbelpraat. Dis moeilik om reg te stel want pasiënte kan nie sinvol terugpraat nie.

Barry Viljoen, ‘n neuro-sielkundige van Johannesburg, bevestig die brein se kernrol in taal is kompleks en krities vir oorlewing van elke mens binne verskillende omgewingsfere. “Taal is nodig om te kan leef, deel te neem en te behoort.”

Voorts onderskei taal die mens van ander spesies. “Kan jy nie interaktief funksioneer nie, wink isolasie wat lewensgehalte knou,” aldus Sulice. Afasie of kognitiewe linguistiese gebreke bied egter uitdagings, want jy het taal nodig vir toegang tot jou brein en vir insig om probleme op te los.

Die snelle vooruitgang in die mediese wetenskap en veral die durende neurologiese rewolusie bied groot hoop vir mense met breinbeserings. Daar word al fyner op die magtigste orgaan, die brein, ingezoem met neuroplastisiteit wat die speelveld fluks omdolwe. Navorsing bevestig die brein se vermoë om te herstel en aan te pas en nuwe roetes vir funksionering te vind na ‘n breinbesering. Rehabilitasie speel hierin ‘n deurslaggewende rol want hoewel spontane herstel in die brein moontlik is, moet dit daagliks intensief en kundig gestimuleer word, sȇ Sulice.

Die stigmas oor breinbeseerders weens onkunde en gevolglike wye diskriminasie bly ‘n hindernis, veral wanneer mense na breintrauma weer by die samelewing moet aansluit en inskakel, aldus Barry en Sulice. Want hoewel breinbeseerdes met aanpassings moet leef, kan baie steeds daarna waardevolle rolle in die samelewing vertolk. Herstel verg egter tyd en begrip.

Sulice wys daarop dat ‘n breinbesering enigeen blitsig kan tref. Bewusmaking van gevaartekens en vinnige optrede is van allerbelang omdat tydige hulp ‘n reuse-verskil aan die uitkoms kan maak.

Ons breine maak ons wie ons is en daarbinne is taal krities, benadruk Barry. “Taalverlies is ‘n verlies van jou vorige identiteit: jy lyk dalk nog dieselfde, maar jy voel en dink nie meer dieselfde nie.”

Volgens hom is taal binne die veeltalige Suid-Afrikaanse samelewing van kardinale belang. “Dis die tool waarmee ons identiteit en kultuur slyp. Taalbedrewenheid laat ons ons plek in hierargieë verstaan.”

Leave a Reply