Vampierheld met pap vlerke
Sonnette Lombaard
Morbius
Superheld-aksieavontuur
Met Jared Leto, Matt Smith, Adria Arjona, Al Madrigal en Tyrese Gibson.
Menswees bly taai in ‘n omgekrapte wêreld. Heil dus die rolprentbedryf wat altyd red met tydige ontvlugtingsvermaak – deesdae word die silwerskerm se superhelde kompleet in kolonies op ons losgelaat!
Hulle daal neer in elke denkbare vorm en vanuit elke windrigting en hool om ons paraat van alles boos te red, wyl meeste ook terselfdertyd eie teenstrydighede moet konfronteer. Morbius is gegiet in voorloper Marvel se strokiesprentstal en deel van die gewilde Spider-Man-kolonie.
Sedert die heelal van superhelde fliekteaters skouspelagtig binnegevlieg het, heers hulle as gewilde waarde-vir-geld hoofstroomvermaak aan oud en jonk. Boonop bied die interkonneksie van die studios se verskillende superheldkolonies wat by mekaar leen en uitruil, hordes karakers wat nog ontgin kan word. Genre-skeppers kan nie voorbly om superhelde en -heldinne vry te laat wat ons in die donker kom weg- en meevoer nie.
Met die pandemie het dit drie jaar geneem voor Morbius teaters kon bereik. Maar in lyn met die winsgewende worsmasjien wat fluks flieksuperhelde uitrol, word opvolge reeds beplan. Oudergewoonte wag ‘n lusmaker-verrassing aan Morbius se einde om fliekvlooie hierop voor te berei.
Hokaai egter. Stuit eerder dié superheld in sy spore want met Morbius misluk Marvel. Morbius, die Lewende Vampier, is die hoofkarakter in die derde fliek in Sony se Spider-Man Shared Universe (SSU), wat self baie nuwe karakters in dié kolonie alleen op die grootdoek gaan loslaat. Die afskop was met Venom (2018).
Die Morbius-storie vertel van die briljante en reeds mank dr. Michael Morbius (Jared Leto), wat ‘n lewende vampier word nadat hy homself met ‘n gevaarlike kuur vir sy seldsame bloedsiekte genees.
Leto is een van Hollywood se verkleurmanne en glo ‘n poetsbakker van faam. Ook bekend as musiekman – as voorsanger van die alternatiewe rockgroep Thirty Seconds to Mars hou hy al lank emo-tienerharte op hol.
Tussen Hollywood se heuwels behaal hy gemengde sukses voor die kameras. Hy het getref as heroïenverslaafde in Requiem for a Dream (2000) en transvrou in Dallas Buyers Club (2013) waarvoor hy wyd as beste byspeler bekroon is, insluitende met ‘n Oscar. Vanjaar se oes waarin hy te sien is, bied skraler kykstof. Hy het juis pas ‘n Razzie (die Oscars vir swak spel) as vrotste byspeler gewen vir sy rol as mode-baas Paolo Gucci in The House of Gucci. Morbius doen helaas niks vir sy geduikte ego nie.
Hierin is Leto se beweerde voorliefde vir die method-toneelkuns en intense rolnavorsing, wel, vermis in aksie. Sy dowwe en hol-antiheld dra nie die fliek nie én grootliks by dat dié superheldaflewering vou. Nie dat die futlose draaiboek, swerms grillerige vlermuise of enigiets anders vlamvat nie.
Die Engelsman Matt Smith (BBC se Doctor Who en Netflix se The Crown) is te sien as Milo, Morbius se boesemvriend met dieselfde rare skeet wat met die kuur ‘n boosaard word. Hy warm die lou rolverdeling op maar kan nie skurk-alleen die lustelose eindproduk red nie.
Neewat, al word Morbius groot, raserig en donker gekaats, is dit een superheld, of anti-held wat nié lig bring nie. Die kyk daarna proe meer soos ‘n morbiede en makabere moerbeitjie wat bitter bly. Jy spoeg dit suur uit voor die titelrol verdwyn.