Ná ‘n kabinetsvergadering vroeër die week is daar besluit dat SA binnekort die ramptoestand sal beeïndig. Maar … regulasies sal ingestel word om die oorgangstydperk te beheer.
Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), het dit eergister aangekondig.
Volgens haar sal die nuwe regulasies in die staatskoerant gepubliseer word en dat die publiek 48 uur sal kry om hieroor kommentaar te lewer.
“Op grond van die reaksie en ontleding van die kommentaar, sal president Cyril Ramaphosa volgende week ‘n aankondiging maak oor wanneer die nasionale ramptoestand sal eindig,” het Dlamini-Zuma gesê.
Sy het die media ingelig en gesê Ramaphosa het verlede week in sy toespraak aan die nasie gesê dit is die regering se begeerte om soveel as moontlik na normaliteit terug te keer, maar op ‘n wyse wat die veranderende aard van die Covid-19-pandemie erken.
“Wat ons gaan doen, is om ‘n paar regulasies te publiseer wat moet bly omdat artikel 27 van die rampbestuurswet voorsiening maak vir post-rampbestuurreaksie en rehabilitasie,” het sy gesê.
Sy het gesê die nuwe regulasies sal na verwagting nie langer as 30 dae hou nie.