Skip to main content

Sakke bedreigde vetplante uit die Richtersveld.

ISAAC CLOETE 

Die polisie is steeds hard besig om die uitroei van beskermde en bedreigde plantspesies te bekamp.

Hulle het die afgelope week op ‘n wenk gereageer en op twee verdagtes (29 en 30) se eiendomme toegeslaan. Die twee was klaarblyklik besig om in die Steinkopf-omgewing verskeie vetplante te versamel, volgens die polisiewoordvoerder, kol Shamay Gamieldien.

Tydens ‘n besoek aan die twee se eiendomme was daar beslag gelê op beskermde plante van derduisende rande. Daar was 312 pelargonium crassicaule-plante en 639 portulacaria pygmaea-plante.

Die polisie het op al die plante beslag gelê asook op ‘n enkelkajuit Toyota Hilux bakkie en ‘n selfoon.

Volgens ingeligtes hier word die beslaglegging beskou as een van die grootste vondse in die Richtersveld-omgewing. Die gesamentlike spanne het bestaan uit die Namakwa misdaadintelligensie, Springbok K9, Springbok blitspatrollie en die Springbok veediefstal- en bedreigde spesie-eenhede. Die Richtersveld Nasionale Park was ook betrokke by die operasie.

‘n Kenner van sekere vetplantspesies, kapt Paul Swartbooi, glo dat daar iewers ‘n slang in die gras is.

“Hoekom moet die saak eers afstaan? Onse plaaslike mense word in hegtenis geplaas en dan moet hulle borgtog betaal. Hier is buitelanders betrokke, maar niks het gebeur nie. Watse bewyse soek hulle nog?”

Die twee verdagtes, vermoedelik van Zimbabwe, het Vrydag in die hof op Springbok verskyn. Hulle staan tereg op klagtes wat verband hou met die oortreding van die Noord-Kaapse natuurbewaringswet.

Volgens Gamieldien is die saak tydelik van die rol gehaal sodat die ondersoekspan meer tyd gegun word om nog inligting in te samel. Die ondersoek duur voort.

* Intussen is drie verdagte reeds op Garies skuldig bevind vir die besit van bedreigde en beskermde plante. Weens die aard van die saak was dit vroeër na die streekshof oorgeplaas.

Hulle word op 5 April hier gevonnis en volgens ingeligtes sal hulle moontlik tronkstraf kry.

Leave a Reply

error: Content is protected !!