Geskiedenis wink vir ons land se vrouekrieketspelers wat aan die ODI Wêreldbeker deelneem.
Die Protea-vroue het ná ’n sterk ‘rondomtalie’(round-robin)-fase vir die Wêreldbeker-halfeindstryd gekwalifiseer. Kan hulle doen wat die manne nie bereik het nie en wêreldkampioene word?
Dit was nie sonder spanning en drama nie, maar Suid-Afrika se vrouekrieketspan het hul plek in die halfeindronde van die eendaagse internasionale (ODI) Wêreldbeker-toernooi verseker met die luukse van een groepwedstryd oor.
Hulle is vir ‘n derde keer in die halfeindronde, maar nou word hulle bevoordeel om vir ‘n eerste keer die eindstryd te haal. Dit is ‘n massiewe week wat vir Suid-Afrika voorlê.
Ná vier agtereenvolgende oorwinnings – drie van hulle in die laaste boulbeurt – is die Proteas se plek in die laaste vier bevestig toe hulle wedstryd teen die Wes-Indiese Eilande uitgereën het. Elke span het een ‘log’punt gekry, wat die Proteas tot nege punte op die punteleer geneem het, genoeg om die tweede plek agter Australië te verseker.
Suid-Afrika pak Indië Sondag in hul laaste ‘rondomtalie’-wedstryd met die wete dat hulle nie na die bopunt van die punteleer kan beweeg nadat Australië al sewe wedstryde in die eerste fase gewen het nie. Maar Suid-Afrika kan ook nie laer as tweede daal nie, wat beteken dat hulle die kragtige Australiërs in die halfeindronde sal vermy…