Skip to main content

Die voormalige Munisipale Tegniese Bestuurder van die Mogalakwena-munisipaliteit se luukse weeldewa ter waarde van R1.4 miljoen is deur die Polokwane Hooggeregshof verbeurd verklaar.

Die bevel volg op die voortgesette ondersoek na bewerings van tenderkorrupsie by Mogalakwena-munisipaliteit. ‘n Gesamentlike span bestaande uit die Valke en NVG Batebeslagleggingseenhede het in Oktober 2020 beslag gelê op ‘n rooi Mercedes Benz GLE 350d ter waarde van R1,4 miljoen wat aan die voormalige Munisipale Tegniese Bestuurder, Kgantsi David Malepa, behoort het. Daar is ontdek dat die voertuig in Malepa se vrou se naam geregistreer is.

Die Valke se Ernstige Korrupsie-ondersoekeenheid het klagtes ontvang dat sakelui glo geld in ‘n voertuighandelaar se rekening inbetaal het vir Malepa om ‘n voertuig van sy keuse as ‘dankie-sê’ te koop.

Daar word beweer dat tenders ter waarde van meer as R50 miljoen tussen 2017 en 2019 deur die Munisipaliteit aan verskillende maatskappye toegeken is sonder om behoorlike prosesse te volg. Malepa en sy vrou was onder die beskuldigdes wat in September 2021 deur die Valke in verband met tenderkorrupsie gearresteer is.

Leave a Reply