Skip to main content

Die Amerikaanse president Joe Biden het Maandag by sy bewering gestaan dat die Russiese president Vladimir Poetin nie aan bewind moet bly nie, maar het volgehou dit was sy ‘uitdrukking van morele verontwaardiging oor die konflik in die Oekraïne’ en nie ‘n beleidsverandering nie, en dat niemand veronderstel was om dit ernstig op te neem nie.

Biden het Maandag sy 2023-begrotingsrede by die Withuis gelewer, maar die perskorps was baie meer geïnteresseerd in die opmerkings wat hy tydens verlede week se reis na Pole gemaak het – insluitend toe hy oor Poetin gesê het: “In God’s naam, hierdie man kan nie in beheer bly nie.” Dis ’n opmerking wat wyd geïnterpreteer word as ’n beroep op regimeverandering in Moskou.

“Ek neem niks terug nie,” het Biden Maandag gesê toe hy daaroor uitgevra is. “Ek wil dit duidelik stel: Ek het nie toe, en ook nie nou, ‘n beleidsverandering verwoord nie. Ek het morele verontwaardiging uitgespreek wat ek voel, en ek maak geen verskoning daarvoor nie.”

’n Verslaggewer het Biden herinner aan sy uitgebreide ervaring in buitelandse beleid – hy het jare lank op die Senaat se komitee vir buitelandse betrekkinge gedien – en gevra of hy kan sien hoe sy woorde as ’n beleidsverklaring geïnterpreteer kan word, of as propaganda deur Rusland gebruik kan word.

“Nee en nee,” het Biden geantwoord. “Omdat dit belaglik is. Niemand glo … ek het gepraat daarvan om Poetin te verwyder nie. Niemand glo dit nie.”

Op ‘n vraag oor Biden aan Amerikaanse troepe gesê het dat ‘hulle sal sien’ hoe die VSA op ‘n hipotetiese chemiese aanval deur Rusland sal reageer, was Biden se antwoord aan Fox News se Peter Doocy: “Ek gaan jou nie vertel nie. Hoekom sal ek jou vertel? Jy moet onnosel wees,” het hy aan die verslaggewer wat hy in Januarie ’n “dumb son of a b**ch” genoem het, gesê.

Toe Doocy sê die wêreld wil weet, het Biden geglimlag en gesê “die wêreld wil baie dinge weet.”

Leave a Reply