Twee plaasaanvallers is Dinsdag 15 Maart in die Modimolle-streekhof (Nylstroom) gevonnis, bykans vier jaar ná die aanval op die afgetrede veearts egpaar, dokters Hercu en Lesley van Niekerk.
Die Van Niekerk egpaar was op 15 Junie 2018 deur vier gewapende mans op hul plaas in die Boekenhout-omgewing tussen Modimolle en Mookgophong (Naboomspruit) aangeval. Die egpaar en een van hul werkers was besig om voer vir diere uit te sit toe die mans toegeslaan het. Een van die aanvallers het op die voertuig begin skiet. Lesley, wat aan die passasierskant gesit het, is twee keer in die maag gewond.
Hercu was aangerand en gedwing om die kluis oop te sluit waarna hulle met kontant en wapens en die egpaar se Toyota Hilux-bakkie gevlug het. Die egpaar het die aanval oorleef.
Die aanval het ’n reuse soektog tot gevolg gehad met talle boere en veiligheidsgroepe wat in samewerking met die polisie na die verdagtes gesoek het.
Volgens ’n polisiewoordvoerder is twee van die verdagtes binne weke ná die aanval aangekeer, maar weer vrygelaat omdat daar nie voldoende bewyse teen hulle was nie.
Volgens ’n woordvoerder van die Heritage Protection Group (HPG) is die twee verdagtes weer in Januarie 2020 aangekeer nadat hulle met behulp van DNS-bewyse met die misdaadtoneel verbind is. Hulle was sedertdien in aanhouding totdat die saak vandeesweek afgehandel is.
John Dewa en Dumisani Manziyo, albei Zimbabwiese-burgers, is effektief tot 20 jaar tronkstraf elk gevonnis.
Op die eerste aanklag van gewapende huisroof is hulle tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Vir die twee aanklagte van poging tot moord is hulle vir ’n verdere vyf jaar tronk toe gestuur. Die vonnisse word gelyktydig uitgedien.
Twee van die verdagtes is nog op vrye voet.